top of page
  • Uitmelkbos

BRING MY TRUG NA OU TENNESSEE …


Ons eie Transvaalse Sarie en haar graf. Haar Amerikaanse sussie is Ellie Rhee van Tennessee. 

Die buitelandse onderrok hang selfs kwaaier uit as wat jy gevrees het wanneer ‘n mens deur die ou FAK-sangbundel blaai. Jy kry, helaas, ruime Duitse, Sweede, Skotse, Russiese, Franse, Spaanse … en natuurlik  Amerikaanse invloede op ons “Afrikaanse liedereskat”.

Jammer dat die uwe nou weer op hierdie ramkietjie van hom met net een snaar tokkel, maar die waarheid is, soos iemand dit een keer diplomaties gestel het, dat Afrikaanse musiek nogal ’n geskiedenis van geleende melodieë en vertaalde lirieke het.  Kom ons vat die Amerikaanse konneksie as aanknopingspunt.

Veral betreurenswaardig vir hierdie oud-burger van die “ou Transvaal” is dat “Sarie Marais” nie net die wysie van “Sweet Ellie Rhee” huitjie en muitjie oorgeneem het nie, maar dat ook die lirieke ‘n onplesierige ooreenkoms toon:

Sweet Ellie Rhee, so dear to me,
     Is lost forever more;
Our home was down in Tennessee.
     Before dis cruel war.
Then carry me back to Tennessee,
     Back where I long to be,
Among the fields of yellow corn,
     To my darling Ellie Rhee.
 
KOOR: 
 
Then carry me back to Tennessee,
     Back where I long to be,
Among de fields of yellow corn,
     To my darling Ellie Rhee.
 

“Bolandse nooientjie” is natuurlik Stephen Foster se ” Beautiful Dreamer”, “Lief Annatjie” is “Sweet Genevieve” en so aan. Stephen Foster het ons liedjieskrywers enormlik geinspireer. Dis nie verrassend nie.   Maar hy is ver van al. Selfs “Die padda wou gaan opsit” was eers “”Froggie went a courtin” met die ahum, Mej. Muis en al.  Ahum word net uh-huh.   “Padda” is glo al vier eeue met ons en kom darem oorspronklik uit Skotland.

Kollega Ollie Olwagen bied as troostertjie die volgende aan: “”Die Amerikaners het darem ook toe ons nog op skool was ‘Suikerbossie’ by ons oorgeneem. Of so is ons vertel en dit het ons vreeslik trots gemaak.”

Dan voeg hy versoberend by: “Maar vir al wat ons weet, het ons op ons beurt ‘Suikerbossie’ se melodie van die Duitsers geërf.  ‘n Menigte van ons ou volksliedjies is van Duitse oorsprong. Ek dink die wysie van die Ou Transvaalse volkslied, “”Kent Gij dat Volk”, kom ook uit Duitsland.”

“Kent gij dat volk” se digter en komponis was, aldus die ou FAK, Cath F. van Rees? Klink bra suspisieus!

In sekere kringe word beweer dat die patriotiese “Afrikaners, landgenote” op die wysie van die Duitse volkslied gesing is. Weet nie of dit so is nie, maar Die Franse “La Marsellais” word wel in die FAK erken by “Burgers, ontwaak vir volk en vaderland”.  

Uit Duits kom o.m. ook die marslied “Erika”, “O Boereplaas” (“Der Tannenbaum”) en “Hola-hi, Hola-ho” wat ons altyd in die sangklas op skool so uit volle bors aangehef het.  (Volle borste, het my vriend Willem Hartzenberg ‘n keer opgemerk. Die meisies het blosend gegiggel.)  

“Taraboemdery” is ‘n Sweedse volksliedjie “Ticke, tacke, tock”.

“Die swaeltjie” is die Spaanse “La golondrina”, deur Nana Mouskouri onvergeetlik gemaak. (Die DA se Diane Kohler-Barnard sal seker die oorspronklike Spaans verkies!)

En daardie onvergeetlike Leonora Veenemans-treffer “Liefste Madelein”?

Eintlik is dit ‘n lied wat die Russiese weermagkoor bekend gemaak het as “Eentonig lui die klokkie”. Dis ongetwyfeld die mooiste Russiese volksliedjie (vir my), en daar is baie mense wat glo dis die mooiste melodie van enige volkslied in enige taal. Die lirieke handel oor die wiele van ‘n perdekoets wat oor die eindelose Siberiese steppe voortrol; die koetsier het eers ‘n liedjie gesing, maar het stil geword en nou is dit net die klokkie wat lui, lui, lui.

“Oh, how lonely the coach bell is ringing As it swings in the night to and fro….”

Ai, selfs die Engels is so meelsleurend mooi, hoe kan ‘n mens dan kwaad wees vir iemand wat die liedjie vir Afrikaans gaan gaps het?

8 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page