top of page
  • Uitmelkbos

Briljant

Crito kry tot in sy murg lekker wanneer ’n resensie soos dié van Jean Meiring oor Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (Netwerk24) verskyn. Die vorige keer dat so iets gebeur het, was in Julie verlede jaar, toe Elmari Rautenbach geskryf het oor Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers.

Die saak staan só: Die grade van positiewe resensies is uiteenlopend. Mens kry swak geskrewe resensies. Mens kry onbetrokke, afstandelike akademiese besprekings. Jy kry gloeiende resensies  wat oorhel na reklame en jy kry ewe gloeiende resensies wat die belesenheid van sowel outeur as resensent belig. Mens kry positiewe besprekings wat lesers net wil inlei in die vreugdes van die boek en jy kry positiewe besprekings wat vir die skrywer die binnevet van die boud gee omdat daar nog swak plekke in die kunswerk te bespeur is.

En dan kry jy die briljante besprekings waarin die resensent dit regkry om sy/haar geesdrif in ruime mate oor te dra in taal wat tintel – dog ook duidelik getemper deur die wete dat dit nie die resensent se waardigheid behoef om nou ál die boek se heerlikhede uit te blaker nie.

Wat die leser dan in Jean Meiring se resensie aantref, is die geesdrif en verkneukeling van iemand wat die lees van ’n spesifieke boek verruklik én sanerend gevind het; ’n resensent wat verbande lê sonder om opdwingerig te wees. Iemand wat, om Opperman se beskrywing opnuut te gebruik, kolporteur is vir die boek op die sinvolste moontlike manier.

Dit is asof Venter vir Meiring aanspoor om self kreatief te skryf. Daar is talle voorbeelde hiervan in die resensie; ek sal graag wil hê dat die mense by WAT moet kennis neem van “gordellose lendene”. Meiring se geesdriftige vloed van gedagtes is só netjies en beheersd dat ’n mens wil hande klap vir iets soos: “Daar roep dr. Spiteri veelal Michel Foucault die kamer binne, én Aristoteles en die breë Griekse ideëryk. As ambrosia bied sy vir Simon afrodisiakum en kairos aan.”

Maar gaan lees self by http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/afrikaanse-romansier-se-sonderlinge-stem-20170827

Crito is uit sy kassie uit oor hierdie resensie. Mag daar nog vele boeke wees wat só ’n reaksie by Jean Meiring uitlok!

Corné Coetzee se debuutdigbundel, Nou, hier het twee resensies by Netwerk24 uitgelok, albei deur digters van formaat. Louis Esterhuizen s’n in Boeke24 en Joan Hambidge s’n in Rapport Boeke. Dit is albei voorbeelde van wat ek hierbo beskryf as positiewe resensies wat die leser wil inlei na die goeie hoedanighede van die bundel, sy vreugdes.

Esterhuizen en Hambidge se aanpak verskil aansienlik, maar uiteindelik probeer hulle albei die nuus oordra dat hier ’n nuwe digterstem is wat baie ernstig opgeneem moet word. Dit is ’n blye verwelkoming, sekerlik, maar ook vir die digter ’n teken dat sy begryp en waardeer word, en wie se tegniese vernuf hoog aangeslaan word.

Hambidge spreek ook die een aspek in die bundel aan wat sekerlik in die jare hierna vir ’n  nagraadse student baie stof vir ’n verhandeling sal gee, naamlik Coetzee se nawoord, waarin sy ontken dat die gedigte outobiografies is.

Laat vandeesweek se ander resensies as gelees beskou word.

1 view

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page