top of page
  • Uitmelkbos

Briewe van ‘n bekende

Mits dese wil ek vir jou sê, deur Hennie Aucamp. Resensie: Daniel Hugo. (Rapport Boeke) Die Afrikaanse leserspubliek weet meer van Hennie Aucamp se smake, voorkeure en menings as wat hulle van enige ander Afrikaanse skrywer s’n weet. Daarvoor sorg Aucamp deur skynbaar alles wat hy nog ooit geskryf het, te laat publiseer. Ek kan nie onthou dat enige resensent hom al tromp-op geloop het oor sy narsisme nie, maar Daniel Hugo kry dit reg om ten minste ‘n gevoel van ironiese agterdog by die leser van hierdie resensie te laat ontstaan. Laat ek eers sê dat mens jou met sommige van Aucamp se standpunte kan vereenselwig. Hy het ‘n manier om deur te dring tot die essensie van ‘n probleem, en ‘n nugtere siening daarvan te gee. Dit laat Hugo deurskemer. Dan haal hy Aucamp aan oor die kwessie van “openbare briewe”: “Ek is dus gesteld daarop dat ’n briewebundel ook afreken met die vals beeld wat daar van my geskep is – moedswilliglik en ook kwaadwilliglik – as esteet in sy ivore toring.” Hugo wys onmiddelik daarop dat daar leemtes in die versameling is wat só ‘n strewe ongedaan maak, kritieke tye in ons geskiedenis waartydens Aucamp nie briewe geskryf het nie. Nog meer betekenisvol vir my is dat Hugo nie rapporteer wat die ontvangers se reaksie was nie. Miskien is dit iets waaroor Aucamp nie skryf nie, miskien was briewe nie vir hom ‘n gesprek nie.

Wolf, wolf, deur Eben Venter. Resensie: Thys Human (Boeke24) Probleme, probleme. Thys Human, een van ons heel beste Afrikaanse resensente, kom vorendag met ‘n resensie waarin hy twyfel oor sy eie oordeel. “Maar net omdat ék nie al die aspekte van die uiteindelike ontknoping geloofwaardig en oortuigend gevind het nie, behoort dit geen leser te verhinder om die roman op te tel en self te oordeel nie.” Wat ek veral problematies vind, is dat die resensie sonder daardie paragraaf kon gedoen het. Human het die roman geweeg, hy het oordele uitgespreek. En dit goed gedoen, sover mens kan oordeel. Dis tog die versweë ooreenkoms tussen leser en resensent, dat mens sy oordele as opreg en eerlik en suiwer aanvaar. Hoekom nou self die geldigheid daarvan betwyfel? Dan liewer nie die resensie skryf nie, nè.

‘n Nuwe wildernis, deur Ben Viljoen. Resensie: Gert van der Westhuizen (Boeke24) Van der Westhuizen sê in die begin van sy resensie dat daar seker nooit genoeg oor die Grensoorlog in Namibië en Angola geskryf kan word nie. Dan gaan hy voort om die inhoud van Ben Viljoen se boek te beskryf, en dit interessant genoeg te laat klink vir mense wat in hierdie onderwerp belangstel. Hy sê egter nie watse nuwe insigte die boek bring nie, of wat dit uniek binne die genre maak nie. En dit is wat ek nodig het om my te oortuig dat ek ‘n Nuwe wildernis moet lees. Ek wil nie hoor dat dit ‘n boek is wat my weer ‘n slag diep sal laat dink oor daardie oorlog nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page