top of page

BRIEF OOR BELHAR

Uitmelkbos


Die brief hieronder is gister aan “Kerkbode” en ander kerklike forums gerig. Ek herhaal dit hier omdat dit vir my, wat die politieke broederstryd van die 80’s intens beleef het, werklik ‘n saak van erns is dat ons op kerklike terrein ‘n ewe felle broederstryd tot elke prys vermy.





Weerstand teen die Belhar-belydenis op die grondvlak van die ouer generasie in die NGK gaan nie sommer net wegraak nie. Ongelukkig word die omvang deur kerkleiers onderskat – derhalwe ook die potensiaal van tweedrag en vervreemding van lojale lidmate.





My kompromie is ‘n nuwe belydenis vir ‘n nuwe tyd´- een wat ook die positiewe in Belhar beliggaam maar sonder die verdelende politieke bagasie. Onder diegene wat daarmee akkoord gaan, is swaargewigte op vele terreine, ook teologiese swaargewigte. Een wat ‘n lang pad intiem met die kwessie saamkom, noem dit die “enigste werkbare alternatief”.





Verblydend is dat, ter wille van die Groter Saak en van vrede en versoening, selfs by sekeres wat die nodigheid van enige bykomende belydenis ernstig bevraagteken, ‘n gewilligheid tot kompromie bestaan.





So lui my brief:





In my kring van gewaardeerde, gerespekteerde vriende is die hele Belhar-spektrum verteenwoordig: van entoesiastiese omarming tot absolute verwerping. Wie het al die wysheid in pag om te oordeel wie die absolute waarheid beet het en wie nie?





Moet die NGK werklik hierdie sensitiewe saak op die spits dryf? Is dit in die kerk se belang om hieroor opnuut tweedrag te ontketen en lojale lidmate te vervreem? Wat is dan fout met ons mense dat ons so graag tot die bittereinde ‘n saak wil uitbaklei terwyl ‘n versoenende alternatief reddend ter hand is?





Die oplossing vir die dilemma is tog duidelik: ‘n nuwe belydenis vir die nuwe era – een wat, saam met die ou grondwaarhede, ook die opbouende in Belhar beliggaam – maar sonder die politieke bagasie waaroor die weë op die oomblik grotendeels skei.





NGK en VGK het kreatiewe teoloë wat uitmuntend toegerus is vir die verantwoordelike taak van ‘n vars formulering vir vandag wat werklik die saak van versoening dien.





Soos ons almal saam ‘n nuwe Grondwet kon uittimmer wat op ‘n breë basis van vaderskap kon reken, het ons in die kerk dieselfde uitdaging voor ons. Dit is ‘n verrykende uitdaging – ons mag gewis nie daarvoor terugdeins nie.





Waarom dan teruggryp na ‘n ‘noodkreet´ uit die verlede as die geleentheid hom voordoen om kraakvars , eietyds en vernuwend te dink? Ek begryp werklik nie.





Van ‘noodkrete” gepraat: beskou asseblief hierdie briefie ook as een. Dit is wat dit is.



0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page