Die HAT maak voorsiening vir die begrip “vername bousels”. Vir my beteken ‘n bousel egter iets wat sommer saamgeflans is. Die meeste bousels is brousels. Hulle kan nie vernaam wees nie al wil hulle.
Die Kaap wil oorlog verklaar, sien ek, teen allerlei agterplaas-argitekte wat eenvoudig eers aanbou, boulyne en ander vereistes of te not, en dan munisipale goedkeuring kom soek.
My oorlog is teen die estetiese – eerder die tragiese afwesigheid daarvan – in die meeste “huisverbeterings” wat ek in my omswerwinge opmerk. Hoef ook nie ver te soek nie. My geliefde Melkbos self is nogal ‘n vesting van ongelukkige aanbousels (aan-brousels).
Sierstene wat hemelsbreed verskil in kleur en tekstuur, dakteëls wat ten hemele teen mekaar skree, aangelapte puisies (soms karbonkels) op die vreemdste plekke, toesmeerdery met slordige pleisterwerk, vensters en deure op die verkeerdste plekke – vir ‘n navorsingsprojek oor wat om nie te doen as jy aanbou nie, beveel ek ‘n toertjie in ‘n middelklas-woonbuurt aan.
Mense met genoeg geld om hul huise groter te maak maar te min smaak om dit stylvol te doen, skep lustig hul monstruositeite; wanstaligtige en gedrogtelike strukture wat geen eenheid met die bestaande vorm nie; dit hoegenaamd nie komplementeer nie en eintlik vir niemand anders as die “trotse” eienaars plesier kan verskaf nie.
As ek ‘n argitek was, sou ek mense graag wou dagvaar vir pyn en lyding as hulle ‘n sorgsame ontwerp op my tekenbord so verfomfaai. Dalk eerder vir naamskending. “Wie het hierdie lelike gedoente ontwerp?” “Ek dink die argitek se naam is Hennie van Deventer!” Berge bedek die arme drommel!
Ouens met geld soek gereeld iets om te borg. Selfs morsighede soos kompetisies vir oorvretery – tien, twintig hamburgers in ‘n halfuur! – kry ‘n gewillige pa-staner wat die beursie daarvoor sal skud. Hier’s ‘n kans vir ‘n kreatiewe borg om sy merk te maak: stuur ‘n kompetisie van stapel om die afskuwelikste “huisverbetering” te bekroon.
Net een praktiese probleempie: die kandidate sal so talryk wees dat die arme beoordelaars nie gaan weet waar om te begin nie – soos muskiete in ‘n nudistekamp.
Naskrif: Voorgestelde pryse: vir die naaswenner ‘n week vakansie in ‘n plakkerskamp; vir die gelukkige wenner drie weke vakansie op dieselfde plek.
コメント