top of page
  • Uitmelkbos

BOSKUNSTENAARS





Abbey is van verlede November hekwag. Hy het geen formele opleiding as kunstenaar nie. Hy teken wel van laerskooldae af. Altyd daarmee die beste in sy klas gewees.

Hy doen opdragwerke teen R350,00. Vir my het hy darem gratis en verniet ‘n skop-en-skouers geskets. Sy geskenk hang nou geraam teen ons slaapkamermuur in Tarlehoet tussen al die familiefoto’s, spotprentjies en wat nog wat identiteit aan daardie vertrek verleen.

So het elke vertrek van Tarlehoet sy eie identiteit. In die woonkamer oorheers diere, in die gastekamer voëls: foto’s wat deur die jare in Sabiepark en die Wildtuin geneem is, en kunswerke (hoofsaaklik darem afdrukke) van Zakkie Eloff, Maré Bruwer van Melkbos, John Coetzer van Oudtshoorn en Elize Genis van Windhoek.

Nuwe aanwinste in die woonkamer is vier geraamde glas-kunswerke van ‘n luiperd, renoster, rooibok en sebra (elk met ‘n groot spoor in die glas daarby) deur daardie knap Melkbosse glasblaser Petro Swart.

Abbey se kuns is in goeie geselskap!

Hy is die derde Sabiepark-kunstenaar uit eie bodem met wie ons paaie gekruis het. Die ander twee was die talentvolle Frederick Nel wat op sy 16de verjaardagparty treurig oorlede is aan komplikasies weens ‘n beenproblem verwant aan marmersiekte, en Lordick Sibuyi wat, interessant genoeg, ook ‘n hekwag was. Hy is by Sabiepark weg nadat hy een aand in die kampong in ‘n rusie ‘n vuurwapen uitgepluk het. Was werklik jammer daaroor. Sy liefde vir die natuur was aansteeklik, soos sy wittand-glimlag.

In ‘n negosiekis bêre ek al baie jare ‘n 2001-almanak van die mond-en voetskilders. By ‘n mondskildery deur T. Webster is ‘n anonieme aanhaling wat my telkens tref: “ In elke vorm van die natuur is ‘n klank. Luister net met jou hart.”

Dit is klaarblyklik wat mense soos Abbey doen, ook al die ander kunstenaars wat jy van tyd tot tyd vol inspirasie en in diepe konsentrasie met hul doeke en esels in die bos sien sit.

 Hulle hoor nie net die klanke nie, maar word daardeur so aan die hart gegryp dat hulle dit met kreatiwiteit en vernuf op papier moet uitstort. Tot vreugde van ons wat nie met daardie talent geseën is nie. Dankie, julle!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page