top of page
  • Uitmelkbos

BOSHOEK (EDMS) BPK



IMG_4170

Boshoek se winkel

GESIOEK, gesoek, gesoek totdat die Honda’tjie stilgehou het voor die Boshoekwinkel waar die weduwee Baby van Deventer en haar seun, Hennie, in 1950 ses maande lank by Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz gewoon het voor haar troue met Pa Malan. Dit was die jaar toe Jannie Smuts dood is.

Na die winkel (steeds Boshoek (Edms) Bpk.) het die Zoeloevroue daagliks met hul “titanas” – piepklein lendeklede, pragtig versier met fyn gekleurde kraletjies – uit hul statte gestroom vir suiker en meel. Later ook vleis. Langs die winkel – met sy hartverskeurend min blikkieskos op die rakke – staan die oorblyfsels van die slagtery nog.


Op die hoek, waar die Honda se neus op die foto uitsteek, het ek en niggies Lina (saliger) en Elsa gewag om deur ‘n steenkool-lorrie opgelaai te word na die naaste skooltjie toe op Enyathi, op pad na Hlobane en Vryheid. ‘n Mooi, harde wêreld.

Die Boshoekmyn is al lank gesluit. Die Studebakers met vragte steenkool se gebrul het stil geword. Die koekepanne is weg. Die paadjie regs op myn toe is darem nog herkenbaar. Op Enyathi by die skool langs gery, maar onseker of dit die plek is waar ek ‘n bewoë stukkie van my st.3-jaar deurgebring het. Sic gloria transit.

Saam met herontdekkings soos hierdie een op die reis deur KwaZulu-Natal het ons ook nuwe ontdekkings te beurt geval. ‘n Uitstaande nuwe ontdekking was op pad Vryheid toe – die Ithala-wildreservaat tussen Louwsburg se heuwels.

Troppe, troppe olifante besoek gereeld Sabiepark se piekniekplek langs die Sabierivier. Tog het die bloed gebruis toe drie olifante skemeraand in die koppie agter ons huisie in Ithala begin bome breek dat dit dawer. Het die Canon gegryp en koppie toe gemik. Net dynserige skynsels gekry. Nietemin, Ithala se (skaars) olifante was deel van ‘n heerlike ervaring.


12191060_10154530277310190_2748718050446211967_n

Huisie in die berge

Die Ntshondwekamp tussen die koppe is van die mooiste waarin ek nog was. Geen oordrywing. Punte vir die argitek vir ‘n natuurvriendelike ontwerp. Die plantegroei is ruig en welig. Op die wildroetes sien jy veral kameelperde, sebras, swartwildebeeste en vlakvarke in oorvloed.

Die plek is ‘n voëlparadys. Rondom die huisie boer ook die stoutste stout apies en dassies. Jy sien uit die woonkamer ‘n stewige dassie hom soos ‘n luiperd in ‘n boom uitstrek.

Ithala beteken ‘n rak op ‘n hoë plek. Sit dit op jou wenslys, Soos Oom Oubaas van 7de Laan sou opmerk: Dis ‘n wildpark uit die “hoogste gestoeltes.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page