Sing saam met my op die wysie van Stadig, stadig oor die klippertjies: Die lewe in die bos Die is so wonderlik, Jy drink jou koffie uit ‘n ou jemblik, Jy pak jou vuurtjie net met hardekool En jy kyk in jou Voelboekie Wat is watter voel …..
Ja, Sabiepark die roep ons en ons moet gaan. Maandag is dit sulke tyd. Om 10:00 styg Air Link se vlug SA 8663 van Kaapstad na Mpumalanga Internasionaal op met die Van Deventers en die Claassens-tweeling (ons kleinkinders) in sitplekke 1A, 1B,1C en 1D. Om 12:35 is ons daar.
“Wat gaan soek julle Desember in die Laeveld?” vra besorgde Kapenaars. “Julle gaan mos uitbraai.” Die antwoord is eenvoudig: ons ken die Kaap in Desember en ons ken die bos in Desember. By ons is geen kwessie watter een ons verkies nie.
Die suidoos knak ons; die bos verkwik ons.
Dit word warm ja, maar dan skuil jy onder jou grasdak met jou dakwaaiers volstoom aan. Of jy sit heeldag en bier drink halflyf in die water van jou primitiewe swembadjie.
Saans roer geen windjie as jy jou kampvuurtjie pak nie. Dis braai, braai, braai elke aand. Dis buite kuier tot wie weet hoe laat,
Rondom jou huppel die 2008-oes van klein bokkies. Kos is volop. Die diere lyk gesond en gelukkig. Die voels roep uitbundig.
Wat is mooier as die bos in sy groen-groen somergewaad? Kyk maar na die foto hierbo. Ek en ons seun, Johan, staan op ‘n kol voor ons huis wat gou verraai as dit droog word. Dit is waar die gras eerste verwelk. Maar as dit goed gereen het, soos in 2005 toe hierdie foto geneem is, lyk dit so. In November vanjaar het 130 mm geval; Desember het ook goed begin. Net so groen gaan dit wees.
En die vreeslike hitte? Iemand kan gerus statistieke hou hoeveel dae in Desember is mild en bewolk. Hoeveel dae sous dit? Hoeveel dae is dit werklik warm, warm, warm? Nee wat, ons het al wonderlike Desembers daar beleef.
Die beste van alles is die kampvuurtjie elke aand (as dit nie reen nie). Geen wind om jou vlamme te versteur en jou siel te versondig nie. Net een, lang vreugde…
Ek groet met ‘n Bosversie wat werklik uit my hart kom:
Here, as ek regtig Vir enigiets, maar Enigiets mag bid – Here, kan ek maar Vir ewig by my bosvuurtjie bly sit?
Dalk gesels ons oor ‘n paar dae uit die bos – hang af hoe die gees my lei. Indien nie, seenwense vir elke leser van hierdie blog.
Comments