top of page
  • Izak de Vries

Born Free? Ga!


(Ek het dié foto net buite Johannesburg geneem.)

Elize, Kassie se vrou, is op die oorlogpad. Sy het gehoor iemand het verwys na die “born frees” wat nie na Zuma wou luister nie en net wil oorlog maak teen die buitelanders.

Die argument was glo dat die “born frees” geen gevoel van die struggle het nie en dus glad nie omgee as die ANC, die “liberator”, praat nie.

Ek moes giggel toe ek hoor die jong klomp het vir Zuma middelvinger gewys, maar ek dink Elize het ’n punt beet. Haar argument is dat dié kinders wel ná apartheid gebore is, maar dat daar van vryheid geen sprake is terwyl jy ekonomies nog in kettings leef nie.

Kom ons wees eerlik, die spul dronklappe wat mense vermoor en huise afbrand, doen dit omdat hulle besef die “ander” is beter daaraan toe as hulle. Die “ander” werk, hulle begin spazas en hulle kry klaarblyklik meer vroue. (Die kwessie van ’n gebrek aan vroue is maar ’n teer punt as ’n man eers ’n bier of twee in het.)

Hier is ’n dilemma: 50% van alle kinders wat vanjaar matriek gaan maak, sal nooit in die formele sektor werk kry nie. Vryheid? Nee.

Om te kan stem is een ding, om jou plek in te neem in die stoet van hulle wat huis opsit, ’n geliefde neem en kinders grootmaak is ’n ander ding.

Ek weet hoe moeilik dit is om vir ’n uitstekende, swart matrikulant werk te kry. Sy het ’n matriek, het rekenaarkursusse gedoen, kinderopleiding en noodhulp ... Enige iemand wat haar in diens wil neem? Ek kan nie enige iemand kry nie. Nou betaal ons haar maar. Sy verdien egter beter.

Ons weet die regering, en die vakunies, mors met die onderwys. Die gemiddelde leerder wat vandag matriek maak, is funksioneel ongeletterd. Glo julle my nie? Toets ’n bietjie daardie kinders met hulle matrieksertifikate.

Die dilemma is dat daar mense van Rwanda, Uganda, Somalië en Nigerë kom wat grade het en bereid is om basiese arbeid te verrig, of die kennis en vaardighede het om ’n besigheid te begin.

Ons skoolverlaters weet nie eens wat ’n begroting is nie.

Natuurlik is dit grotendeels Bantoe-onderwys se skuld, maar die gebrek aan vordering die afgelope twaalf jaar moet volledig voor die deur van ANC en Cosatu gelê word.

’n Kind wat in 1990 gebore is, is nou 18.

Op 18 wil ’n seun meisies optel, werk kry, dalk selfs ’n tweedehandse kar koop.

Vir ’n jong seun in die township wat vandag 18 is, is dit ’n voorreg om nie honger te gaan slaap nie.

Is ons verbaas dat hulle kwaad en is en die “ander” uit die land wil jaag omdat hulle self geen toekoms het nie?

Ons moet nog dôners hard werk in hierdie land as ons ’n hele generasie “born frees” wil maak.

A luta continua!


0 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page