top of page
  • Uitmelkbos

BOOM MET BAIE VRUGTE


‘n Man wat baie tot stand gebring het waarvan ander die vrugte pluk.  So het ds. Johan Rossouw in die Paarl se historiese Strooidakkerk by sy gedenkdiens hulde gebring aan die baanbreker-nyweraar Jan de Necker wat op 93 oorlede is.

 Wat Jan de Necker tot stand gebring het, of as medestigter tot stand help bring het, sluit in Toyota SA, Veka, die Rand-Aksepbank, Bankfin en die Wêreldwye Natuurlewefonds.  Daarby was hy voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstuut, jarelange steunpilaar in die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, burgemeester van die Paarl en nog wat.

 Van vrugte gepraat: wonder hoeveel honderdduisende Toyotas vandag in Suid-Afrika op die paaie is.  Sommer heelwat getel in die straat voor die kerk!  Die klerereus Veka is spesifiek gestig om vir vroue en kinders ‘n lewenstog te skep. Vir hoeveel honderde Afrikanergesinne het Veka nie in taai jare brood op die tafel gesit nie.?  Hoeveel mense is nie op die been gehelp met banklenings waarvoor Jan de Necker bedank moet word nie?   Hoe pluk die natuur- en wildlewe nie die vrugte van die Natuurlewefonds nie?

 My eie hulde beperk ek tot die heerlike vrugte wat ek al 15 jaar lank pluk van sy versiendheid, saam met o.a. Werner Ackerman, Albert Wessels en Daantjie du Preez, om ons bosparadys Sabiepark by die Krugerhek van die Wildtuin te skep en help vestig. 

 Die storie van Sabiepark het hierdie fiere man – ‘n man soos ‘n  formidabele bosveld-boom  – my een aand op die stoep van sy en Dalene de Necker se ruim huis op die oewer van die Sabierivier in Sabiepark oor die beste KWV-wyne vertel (Die huis behoort nou aan die De Neckers se dogter, Suné Greeff.). My gasheer het vertel omdat ek hom uitgevra het daaroor; nie omdat hy sy eie beuel wou blaas nie.  By al sy ander deugde was Jan de Necker ‘n beskeie plat-op-die-aarde-mens. 

Hy het Werner Ackerman die eer gegee. Dié het lank gedroom van so ‘n toevlug ver van die stad se gewoel en rumoer; ‘n plek waar die diere- en planteryk so ongeskonde moontlik behoue bly, en vermoeides in vrede hul batterye kan herlaai.

 Die ideaal het begin werklikheid raak toe die nou verwaarloosde sitrusplaas Lisbon aan die Sabierivier (eienaar: David Graaff Foods Ltd) in 1973 onder die hamer kom.  Deel daarvan was ‘n lappie ongerepte Bosveldgrond aan die Sabierivier, bekend as sir David Graaff, ouer broer van sir De Villiers Graaff,  se persoonlike  “sanctuary”.     

 Ackerman het dadelik die moontlikhede raakgesien. Hy nooi De Necker, Wessels, Du Preez en ‘n landmeter, Phil Jooste, toe om hul gewig in te gooi. Hulle stig ‘n konsortium en dié word die nuwe eienaars van Lisbon (wat hulle na ‘n paar jaar weer verkoop het) – en van Graaff’s Sanctuary. 

 Kort daarna word die nuwe teerpad van Hazyview na die Krugerhek voltooi en word die “sanctuary” as’ t ware geamputeer van die Sabi-Sand-wildtuin waarmee dit ‘n eenheid gevorm het. Daardie “afvalgrondjie”, feitlik omring deur die Krugerpark en die Sabi-Sand, was nie juis vir landbou geskik nie. Dit was egter ideaal vir die vestiging van ‘n natuur- en wildbewaringseenheid — die toekomstige Sabiepark.

 Omvangryke navorsing en lang onderhandelinge met die destydse provinsie Transvaal het gevolg.  Daarna laat die vyf stigters nie gras onder hul voete groei nie. Jooste – hy was tot onlangs nog ‘n eienaar – was stadsbeplanner van Klerksdorp. Hy het die gebied opgesny in erwe van rondom een hektaar elk, dienste is aangelê en ‘n skilderagtige piekniekterrein ontwikkel. Sir David se “sanctuary” sou nou vir al hoe meer mense ‘n persoonlike heiligdom word.

  Aan kopers het dit  nie ontbreek nie, aanvanklik net uit Suid-Afrika, maar later ook al hoe meer uit die buiteland, uit Amerika, Brittanje, Kanada, Nederland, die Emirate — almal gebind deur een nasionalisme: hul liefde vir die natuur.

 Vir baie eienaars – tot vandag toe – is hul hektaar in Sabiepark veel meer as net ‘n wintervakansie-bestemming. Dit is ‘n “eie Bosveldplasie”, die vervulling van ‘n tradisionele hartsverlange na ‘n stukkie erfgrond wat van geslag tot geslag oorgedra sal kan word. Vir daardie wonderlike nalatenskap, ‘n bos Sabieparkse tarentaalvere vir Jan de Necker!  

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page