top of page
Uitmelkbos

BOEKE WAT KOOK

By woorde waarvan ek niks hou nie, soos “gemorskos” (kos kan nooit gemors wees nie – punt) en “liefdeskind” (vir ‘n passiekind) kan ek die smalende “vanity publishing” voeg. Naspers se Koos Bekker gebruik dit gister in Rapport in sy huldeblyk aan wyle S.J.A. (Ina) de Villiers, skepper van die ikoon-kookboek “Kook en Geniet”.

Uitgewers wou niks van haar manuskrip weet nie. Toe gee sy en haar man dit ten einde raad maar self uit … en verkoop ‘n miljoen – die nommer-twee-boek in Afrikaans naas die Bybel.

Nogal nie sleg nie vir ‘n stuk “vanity publishing”!

Tot Koos se verdediging: hy gebruik “vanity publishing” nie smalend nie; eerder ironies, juis om die welslae van “Kook en Geniet” in konteks te plaas. Hy sit dus die eintlike hovaardige gebruikers van die woord subtiel op hul plek.

Ditsem, Koos! Verreweg nie alle “vanity publishing” is immers uit misplaaste ydelheid nie. “Frustrasie-publikasie” is in gevalle dalk nader aan die kol. Outeurs raak eenvoudig moeg om bloutjies te loop. Dan duik hulle maar self aan die diepkant in – soos mev. De V.

Waar ek wel van Koos verskil, is as hy beweer: “Nou is dit ‘n wet van die Mede en Perse dat boeke wat skrywers self uitgee, altyd (my kursivering) in trane eindig.” Altyd, Koos? Ek gaan my weerhou van lysie maak, want ek is bang dat ek belangrikes vergeet, maar “Kook en Geniet” was darem bepaald nie die enigste geslaagde selfpublikasie tot dusver in Afrikaans nie, of was dit? Vra o.a. vir Gert Sarrisam (”Vonke uit ‘n koeroeklip” e.a.).

Die moeilikheid is natuurlik dat die uitgee van ‘n boek/nie-uitgee van ‘n boek op feilbare menslike oordele berus. Party manuskripte is klaarblyklik juwele. Ander is duidelik oorambisieus. Tussenin is ‘n grys gebied waarin juwele soms misgevat (en prulle soms gepubliseer) word.

Koos Bekker sonder in sy huldeblyk o.a. Stephen King en J.J. Rowling as massaverkopers uit. Maar King se eersteling, “Carrie”, is self deur 30 uitgewers verwerp en Rowling se “Sorcerer’s Stone” deur 12. Dit is ‘n bekende storie dat ‘n kleinerige uitgewer se dogter hom oorreed het ons die kans met Harry Potter te waag nadat die grotes dit almal beleefd van die hand gewys het.

Voeg by hiedie twee name ander “aspoestertjies” soos William Golding, wie se “Lord of the Flies” deur 20 uitgewers verwerp is, John le Carre (die nimlike) , Anne Frank, George Orwell, William Faulkner en Thor Heyderdahl (die lys kan oneindig langer) – dan raak dit duidelik dat oordele soms skeef en krom is.

Van die afwysende kommentare is nogal pikant. Een van die pikantste kom van die ou wat Orwell se “Animal Farm” nie wou publiseer nie: “It is impossible to sell animal stories in the USA!”

“Gone with the wind” van Margaret Mitchell is deur nie minder nie as 38 uitgewers afgekeur. Toe word dit ‘n nogal magtige wind wat vele fliekrekords weggewaai het. ‘n Rosyntjie oor daardie epiese fliek is dat Gary Cooper die hoofrol van die hand gewys het met die volgende kommentaar: “I’m just glad that it will be Clark Gable falling on his face and not Gary Cooper.” Nie net uitgewers kry eier op die gesig nie!

Ek skryf hierdie blog as iemand van wie boekies deur Tafelberg, Human en Rousseau, Protea en Griffel uitgegee is (dankie, julle!). My eie uitgewerytjie, Tarlehoet, is soms ook deur my ingespan. Van laasgenoemde se produkte is bepaald die neerslag van “frustrasie-publikasie”, o.a. “Buurman van die Wildtuin”, wat nogal goed verkoop het, al moet dit self se.

‘n Faktor wat nie uit die oog verloor moet word nie, is die arbeidsgenot vir sommige amateur-boekmakers om hul eie ding te doen – al moet jy toegee dat betrokkenheid van ‘n buite-uitgewer altyd vir die aansien van die skrywer en van die boek voordelig is. Dit bly die eerste prys.

Hoe ookal, “vanity publishing” is nie ‘n vriendelike woord nie, Soms is dit gewoon laf om ‘n boek daardie etiket te gee.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentários


bottom of page