Bobbejane word verpes deur boere oor die plundering van hul landerye en deur diegene wat gedurig “huisbesoeke” van die sekelsterte moet afweer, soos ons in Sabiepark. Duisende wrewelrige woorde het al uit die uwe se pen gevloei oor lyding aan die hand van balhorige bobbejane – ook op hierdie blog.
Kinders (en heelparty grootmense) geniet bobbejane se manewales langs die pad in natuurreservate en wildtuine – hulle is “dan so baie amper-mens”. Bobbejaanmoeders se sorgsaamheid is ‘n kenmerk.
In die politiek is enige verwysing na “bobbejaan” taboe – party ouens se nerwe is bra dun oor die moontlike konnotasie. Selfs “baviaan” soos in “Baviaanskloof” word met agterdog bejeën.
Bobbejane sorg vir humor. T. O. Honiball het Adoons-hulle geskep – ‘n tekenreeks oor bobbejaanstreke wat die harte van generasies van waarderende lesers verower het. Deesdae spot spotprenttekenaars lekker met bobbbejane, soos Fred Mouton vanoggend in Die Burger n.a.v. die fees van die bobbejane na die Argus-fietsren. Ek “leen” by Fred die prentjie hierbo van die “Koning van die Berge”.
Bobbejane figureer in talryke spreekwoorde.
My studente vriend Arend de Waal van Windhoek opper ‘n ander bobbejaan-element: die gevaar wat daardie nare geel slagtande vir mens en dier inhou.
Arend sluit hom aan by die internetlys oor gevaarlike diere en ons koshuismaat, Piet Henning, se reaksie uit Louis Trichardt (vorige blog).
Arend skryf:
Ek het met groot belangstelling gelees van jou lys van gevaarlikste diere en Piet se aanvulling daarby. Ek ondersteun Piet se standpunt oor die luiperd.
Waar ek groot geword het in die omgewing van Otavi het ons met leeus en luiperds te doen gehad. Nou sê ek vir jou as iemand wat op albei se spore gestap het (natuurlik met `n geweer), jag ek te voet eerder leeu as luiperd. Hy is uiters gevaarlik omdat hy slu is . `n Gekweste luiperd jag jy nie sonder honde wat weet wat om te doen nie; honde wat nie op jou spoor draf nie, maar wat in sirkels om jou beweeg om hom op te spoor.
Daar is egter een dier vir wie `n luiperd nogal ontsag het. Dit is `n bobbejaanmannetjie. `Mens misgis jou maklik met `n bobbejaan. Het jy al so `n groot mannetjie se slagtande gesien? Mense sien nie die bobbejaan as so gevaarlik nie, want hy beweeg gewoonlik weg van mense af . Maar moenie hom vaskeer nie.
Luiperds is mal oor bobbejaanvleis en val gewoonlik in die nag aan as die bobbejane in hol kranse slaap. Maar as mannetjies stelling inneem, maak hy spore . In `n geveg is daar geen dier wat die spoed van die `n bobbejaanmannetjie klop nie. Hy skeur sy vyand eenvoudig uitmekaar.
Moet sê: persoonlik sou ek verkies om in die veld skielik ‘n bobbejaanmannetjie teen te kom eerder as ‘n luiperd of leeu. Maar ek kan nie van Arend verskil nie dat mense wat bobbejane as onskuldige pretmakers beskou, buitengewoon naïef is.
‘n Vasgekeerde bobbejaan is bepaald nie kinderspeletjies nie. Die woord “bobbejaanstuipe” vir ‘n woede-uitbarsting is nie uit die lug gegryp nie.
Comments