Haai, ons is nie blompotte sonder ore nie, weet julle? As ek ‘n kelner was, sou ek ‘n bord om my nek wou hang met hierdie woorde op.
Iets waaroor ek my verstom, is hoe mense in ‘n restaurant of ander eetplekke lustig en luidrugtig dinge kan kwytraak wat bepaald nie vir die die kelners se ore bedoel is nie.
Ek praat nie nou van sakegeheime nie – meermale is dit opmerkings van seksistiese of rassistiese aard. Vandeesweek was ek weer aan ‘n tafel waar blatante rasse-vooroordeel die arme bruin kelnerin se ore moes laat gloei het.
Maar wat kan sy doen? Moet sy die borde neersmyt en uithardloop? Of moet sy maar in nederige stilte die beledigings aanhoor?
Hierdie ding pla my al lank. Dit was in die apartheidsdae in ‘n stadium nogal akuut. In Bloemfontein se President-hotel was dit een aand amper absurd om te sien hoe die swart kelners in hul netjiese monderings langs die ornate onthaalsaal se mure met hul skinkborde wag, terwyl die bekkige seremoniemeester sy grappies met hul rassegeurtjies inryg.
Daardie aand het my sensitief gemaak vir hierdie onsensitiwiteit by ons mense.
Asseblief, ek is nie een van diegene wat rassisme agter elke bos soek nie, en ek raak ewe sat daarvan om alewig daarvan verdink of
verwyt te word. Maar regtig, daar is mense wat sal moet leer om ‘n wag voor hul monde te plaas.
‘n Mens kan nie jou “kampvuurpraatjies” in die openbaar voer nie – ook nie op Facebook nie, my liewe Sunette Bridges.
Comments