top of page
  • Izak de Vries

Bloggers vir Opposisie (BLOPS!)

Het julle Koos Kombuis in die Rapport gelees? Koos sê dis tyd dat die United Democratic Front weer herleef, want ons het ’n opposisie nodig in Suid-Afrika.

Koos sê, heeltemal tereg, dat Helen Zille ’n groot rol speel in ons land, maar dat die DA darem nie is wat ons nodig het nie.

En, gaan Koos voort, kyk ’n bietjie wat gebeur: Dis die vakunies wat besig is om die septer te swaai. Hy noem die uitstekende besluit van dokwerkers om te weier om die Chinese skip vol wapens af te laai.

Dus, ek stem heeltemal saam met Koos dat ons ’n opposisie nodig het. Ek is egter nie seker of ek so mal is oor die span wat hy uitgekies het nie. Dis wat hy sê: “Zille is ’n kragtoer, maar Zille plus Bantu Holomisa plus Patricia de Lille plus die ouens van Solidariteit plus wie ook al wil saamwerk, is ’n volksbeweging.”

Hy’s reg. Natuurlik is hy reg.

Ek sou egter graagter wou sien dat Cosatu en die SAKP ’n werkersparty stig, links van die regering. Daarby sou ek die PAC en De Lille wou gooi.

Op daardie stadium moet Kortbroek dan vir Zille in die oor gaan fluister hoe lekker dit in die ANC is, en saam-saam kan die DA/ANC-alliansie dan die sentrale, middel-van-die-spektrum-party word. Die ANC is lank nie meer Sosialisties nie.

Ek vrees ook Koos is hoopvol as hy dink dat Solidariteit reg is om verby hulle wit velle te kyk. Dis jammer, want ek dink hulle is moerse slim mense. Dis net dat hulle en die nuwe SA nog nie lekker gekonnekteer het nie.

Maar dalk luister hulle vir Koos. Wie weet?

Intussen moedig ek julle aan om ook deel te neem aan die beweging Bloggers vir Opposie (BLOPS).

Viva Koos!

0 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page