top of page
  • Uitmelkbos

BLOED OP STOEPTRAPPIES


Dertien jaar lank – en ‘n hele entjie in ons tweede duisend dae langs die Sabie in – moes die Van Deventers wag vir ons eerste vangs in Sabiepark. Op Woensdag 27 Julie 2011 was ek en Tokkie toeskouers toe ‘n luiperd ‘n vlakvarkie in die Hongonyi-drif in Maroelalaan plattrek.

Die weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie, sê hulle. Dié vangs was egter presies op die plek waar ‘n luiperd twee jaar en ‘n dag gelede, op 28 Julie 2009, ook ‘n vlakvark-maal geniet het. Daardie maal, in ‘n jakkalsbessieboom vlak langs die straat, het ons lank uit die motor dopgehou. Die vangs self was ons egter nie bevooreg om te sien nie.

“Bevoorreg” is dalk nie die beste woordkeuse vir die drama wat hom op 27 Julie voor ons oë afgespeel het nie. Die vlakvarkie se einde het nie net vir ‘n goeie definisie van die begrip “déjà-vu” gesorg nie, maar ook van die begrip “gemengde gevoelens”.

Die slagoffer was een van “ons eie” vlakvarkies – een van viertjies wat in Desember in Sabiepark gebore is en talryke kere saam met hul ma vir ons en die tweeling Jacob en Thomas Claassens by Tarlehoet diereplesier kom verskaf het. In my albums is foto’s van die kleingoed langs ons huis aan’t drinke, en diep in droomland met hul vol magies langs hul ma ingeryg.

Oor ‘gemengde gevoelens” bestaan die effens ligsinnige definisie dat dit is soos om jou skoonma in jou nuwe Mercedes oor ‘n afgrond te sien verdwyn. Ek is nie ‘n ou vir skoonmagrappe nie, maar ek verstaan die verskeurdheid. Ons was ewe verskeurd. Dit was nou opwinding met ‘n traan, hoor!

Tokkie wou net uitroep om die vlakvarkies te waarsku toe hulle niksvermoedend aangestap kom. Ek moes paai vir ‘n vale. Die luiperd was versteek in ‘n skadu onder ‘n bos. Skielik het die hele soepel liggaam se spiere onder die kollevel begin tril.

Toe die groot kat met een kragtige sprong uit sy skuilplek kom, het net een gedempte skreeugeluid opgeklink, soos diè wat ek een keer gehoor het toe ‘n jong man te laat rem trap voordat hy met sy klein motortjie onder ‘n staalvragmotor inry.

Toe word dit doodstil. Die luide protes van die drie oorlewendes was al wat jy kon hoor. Die volgende oomblik sien ons die luiperd, slap prooi in sy bek, doelgerig die huis van ds. Hannes Els van Kroonstad (Giraffe, nommer 186) nader. Dit is by ds. Hannes stoep waar ek die foto hierbo geneem het. Op die stoeptrappies was die ene bloed.

Klaarblyklik wou die luiperd op die stoep rustig met die vlakvarkie gaan klaarspeel. Toe die kamera klik, het hy vies opgekyk. Ons oë het ontmoet. Daarna het 2011 se luiperd met trofee en al in die bos verdwyn. Dit was die laaste sien van ongetwyfeld die hoofkarakter van ons 35ste bosvakansie in Sabiepark sedert 1998.

0 views

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page