top of page

BLINK HARE, SOET WYN, IETSIE-BIKINI’S

Uitmelkbos

Julie Andrews sing van haar “Favourite Things”, onder meer: “Raindrops on roses and whiskers on kittens; Bright copper kettles and warm woolen mittens; Brown paper packages tied up with strings; Cream-colored ponies and crisp apple strudels; Doorbells and sleigh bells and schnitzel with noodles; Wild geese that fly with the moon on their wings; Girls in white dresses with blue satin sashes; Snowflakes that stay on my nose and eyelashes; Silver-white winters that melt into spring …” alles baie pragtig.

Ek wil nie me. Andrews probeer ewenaar met ‘n persoonlike lysie van gunstelinge nie. Uit my amper 70 jaar in die lewe is sekere oudag-herinneringe aan allerlei goeters van weleer egter diep ingegrif. Hier is enkele lukrake beelde wat vinnig by my opdoem: (hoegenaamd nie chronologies of in enige spesifieke volgorde nie):

Rygoed: My oom Danie se treppie met die span kopspelende perde waarmee hy my en Ma op Arlington se stasie kom haal het (1946), my (diamantspeurder-) oom Willie se “mouterbaaik” met syspaan (1947); die Studebaker-steenkool-lorries waarmee ek elke dag geleenthede skool

toe gekry het van Boshoek af tot by Enyati (1950), die maroen Dodge SE wat ek met ‘n limerick gewen het (1972).

Orkes: Hendrik Susan se orkes op die verhoog van Kimberley se stadsaal, met sanger Jurie Ferreira (“Tahiti, verre land…”) en Ernst van Rooyen met die bas (“Ernst se bas…., Ernst se bas….., Ernst se basviool”) (1948).

Fliek: Cowboy-flieks met Roy Rogers, Gene Autrey en Hopalong Cassidy, Afrikaanse flieks met Al Debbo en Frederick Burgers (40’s/50’s). Later: Gone With The Wind.

Klere: My lang hemelsblou sokkies (1956), my eerste langbroekpak (1955), “spiffies” (50’s) , my Tukkiebaadjie (einde 1958), my eerste poeierblou Tuxedobaadjie (1959), safaripakke (60’s).

Stoei: Willie Liebenberg vs. Sky-Hi Lee Saterdagaande op die radio; kommentator: Awie Labuschagne (50’s).

Liedjies: Treffersparade op LM Radio (laat 50’s), Patti Page se Tennessee Waltz (1950) en Mockin’ Bird Hill (1951), The Weavers se Goodnight Irene (“I’ll jump in the river and drown”) – amper 24 uur per dag gespeel deur die eienaars van ‘n private hotel in Durban waar ons ‘n ruk in die begin van die 50’s tuisgegaan het).

Boeke, ens: Casper H, Marais se Rooi Jan Roux, Topsy Smith se Trompie, “comics” ruil Saterdagoggende by die fliek (50’s), The Snow Goose (matriek, 1957) en Fountainhead (‘n geskenk van my studentemaat Piet Henning in 1961).

Toilette: Sinkplaat-kleinhuisie met emmer onder die peperboom in Diagonalstraat, Kimberley (40’s), die “long drop” met sy onaangename reuk, langbeen-spinnekoppe en harde koerantpapier op Oom Martiens en Tannie Dinah se plaas by Vryheid (40’s), nagwa met emmer-gekletter in Kimberley se strate (40’s), die Russiese lugdiens Aeroflot se “stinkers” op ‘n vlug van Londen na Moskou (80’s).

Haarolie: Brylcreem, Brylcreem, Brylcreem vir die blinkste, beheerbaarste boskasie!

Kerk: Dominee in swart toga met arms uitgestrek (soos Batman) om die seën te vra. (50’s/60’s)

Terlefoon: “Tiekiebokse”, handsentrales (“nommer, asseblief”) en, natuurlik, die student se vriend in die kommkunikasiewese, die “langtiekie”.

Meisies en hul modes: Die mini (60’s) (sjoe), die bikini (1946) (sjoe-sjoe), Brigitte Bardot se borsie in “And God Created Woman” (1958).

Wyn: Grünberger Stein (studentedae), Tassheimer Goldtröpfchen (eerste jare by Volksblad), Montpellier se huiswyn (ons eerste huispartytjie in Johannesburg, 1975), Bellingham Crand Cru (Beeld), Tassies (50’s en 60’s).

Uiteet: Bloukamer op Johannesburg se stasie (intervarsitydinees), Franco’s in Bloemfontein (my en Tokkie se verlowing op 15 Maart 1965. (Ons had nie ‘n keuse – dit was Bloemfontein se enigste).

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page