top of page
  • Uitmelkbos

BLERRIE FOOL PLOEG AL WEER!

‘n Gunstelingstorie wat Johan van Wyk meermale in sy rubriek Stop Van Myne in Die Volksblad opgehaal het, was van die kwaai droogte in die Vrystaat. Toe kom die reen. Die volgende oggend dreun die trekkers op die lande.

Iemand – weet nie meer wie nie – merk toe meewarig op: Ja, die blerrie fools ploeg al weer!

Hierdie “blerrie fool” ploeg ook al weer. Nadat ek “finaal” besluit het ek steek nooit weer my nek uit in ‘n persdebat nie, kon ek my gister nie verhelp nie. Iemand stuur vir my uit die noorde ‘n onderhoud aan wat Volksblad met Max du Preez gevoer het. (Die onderhoud het ook in Beeld verskyn.) Daarin spoel Du Preez op sy ou trant mond uit oor die Afrikaanse koerante waar hy sy joernalistieke tande in die 70’s gesny het.

Ek ken sy vooroordele, ek ken sy skeefgetrekte relase, en ek kan kwalik onbewus wees van hoe hy my persoonlik verpes nadat hy in koerantrubrieke en elders (ook van sy boeke) al in geen onduidelike taal nie oor al my tekortkominge en gebreke uitgewei het. Wat my egter gister (veral) rooi laat sien, is sy sy aanspraak dat politieke joernaliste in sy tyd (dus ook my tyd as redakteur) “gedwing is om feite te verdraai”.

Dis natuurlik die opperste onsin, maar Du Preez kom telkens met sulke vae veralgemenings weg – en kry daarvoor sy kwota toejuiging. Voordat ek my kon keer, was ek voor die rekenaar. My reaksie verskyn vandag in die briewekolomme van Beeld en Volksblad.

Ek gaan dit ook hier weergee – met die enkele kommentaar, met groot respekte, dat my brief slegs gaan oor die spesifieke beskuldiging van “dwing om te lieg”. Ek soek antwoorde op reguit vrae: Wie, wat, waar, wanneer? Ek soek die naam of name van redakteurs wat sulke verregaande opdragte aan hom gegee het. Is dit Ton Vosloo, wat sy redakteur by Beeld was, of iemand anders?

Ek berei my voor vir wydlopige aanslae, wat, voorspelbaar, weer gaan draai by die Broederbond en waar nie nog nie. Ek het egter werklik nie energie vir ‘n herhaling van ou debatte nie, en vra by voorbaat verskoning dat ek nie gaan antwoord op ander sake buite die kernkwessie in my brief nie.

Hiermee my reaksie op Max du Preez wat vandag in Beeld en Volksblad verskyn:

Max du Preez beskuldig Afrikaanse koerante in ‘n onderhoud in Beeld (Donderdag 1 September) dat politieke verslaggewers gedwing is om “feite te verdraai.” Ter wille van die geskiedenis kan Du Preez gerus openhartiger wees. Sy verwyt bevat ‘n te ernstige aanklag teen ‘n vorige generasie redakteurs om só ‘n gewraakte aanspraak maar in ‘n waas van vae veralgemening te verdoesel.

Van wanneer praat Du Preez presies? In die “Who’s Who” begin sy loopbaan eers in 1982 toe hy Engelse pers toe is. Die presiese begin en einde van sy loopbaan by die Pers en skof as politieke verslaggewer kan dus nie uit daardie bron bepaal word nie. Die gerespekteerde Ton Vosloo was egter redakteur van Beeld van 1977 tot 1983. Dit was kennelik in die tyd toe Du Preez, volgens hom, gedwing is om “feite te verdraai”.

Beskuldig hy Vosloo? Was die sondaar Wiets Beukes, redakteur van Die Burger van 1977 tot 1990? Was dit dalk Bart Zaaiman wat tot April 1980 by Die Volksblad (nou Volksblad) redakteur was, of – behoede dit – Hennie van Deventer, sy opvolger?

Du Preez sê hy het “kapsie gemaak” By wie? As Beukes druk op hom geplaas het of, onwaarskynlik soos dit klink, Van Deventer, verreweg die groentjie-redakteur in daardie stadium, het die veronregte verslaggewer dadelik sy eie redakteur oor dié intimidasie ingelig? Veronderstel sy eie redakteur het sulke verregaande opdragte gegee. Het hy hom op die besturende direkteur, adv. D.P. de Villiers, of die direksie beroep?

Huidige senior joernaliste by Media24 – onder wie Tim du Plessis, hoof van Afrikaanse koerante, Peet Kruger, redakteur van Beeld, en Francois Lötter, ‘n adjunk-redakteur van Die Burger, was ook politieke joernaliste in die “ou” bedeling. Was hierdie kollegas onder dieselfde dwingelandy? Sal een as stawende getuie na vore kom dat van hom verwag is om “feite te verdraai” ?

Reguit vrae verdien pertinente antwoorde. Voorheen het Du Preez verkies om met venynige ontwyking te reageer as dinge vir hom ongemaklik raak. Dit sou my min verbaas as hy weer siedend gaan instorm en links en regs klappe uitdeel. Hy kan my egter kwalik slegter sê as wat hy reeds gedoen het.

Ek gee hoegenaamd nie te kenne ons generasie is bo kritiek verhewe nie. Ons het klaarblyklik in vername opsigte gefouteer. Kritiseer ons dus na hartelus. Wat werklik in die hart sal wond, is immers nie verdere algemene veroordeling nie; slegs as Du Preez sy klagstaat met feite kan bewys: as ons ontbloot sou staan dat ons inderdaad politieke joernaliste opdrag gegee het om te lieg (want dit is tog wat “feite verdraai” wesenlik beteken). Hy moet asseblief ruiterlik die skuldiges se name noem.

Skriftelike riglyne het in my tyd by Die Volksblad (1980 – 1992) bestaan waarin beklemtoon is dat die waarheid in alle omstandighede heilig is. Dit staan nou nog swart op wit. Die koerant is, op ons versoek, deur ‘n professor in die Christelike etiek hieroor getoets. Hy het ons ‘n skoon “oudit” gegee. Ek glo sonder voorbehoud ‘n verbintenis tot die waarheid was oral by al ons koerante die kernbeginsel van ons joernalistieke etiek.

Du Preez het nou die geleentheid om my en my kollegas finaal te ontmasker.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page