top of page
  • Uitmelkbos

BLAASKANS – NET VIR MANS!

Een keer per maand vergader ‘n klomp oumansklier-veterane in Bloemfontein  om nuwe lede in hul klub te verwelkom en hul rillerverhale as ‘t ware aan die groot klok te hang.  Die naam is die (Jakob) Regop-groep.

 My vriend Sarel Venter is informeel as nuwe voorsitter benoem in die lig van resente ysingwekkende ervarings waarvan hy vriende in ontsenuende e-pos-boodskappe ingelig het. Geen foto’s was aangeheg nie .. maar Sarel is nie ‘n man wat lieg nie. Sy woord is sy eer. Geluk, nietemin, Sarel met jou voorsitterskap. Hou hulle maar so kordaat en paraat as jy kan – die lede van die klub, bedoel ek.

 Synde die eerbare man wat hy is, het Sarel vinnig na die versending van sy eerste e-pos met sy “blaasrelaas” ‘n korreksie aangebring, wat ‘n ietwat ander perspektief gee. Aanvanklik het hy weggeval met: “Toe ek verlede Sondagnag in my hospitaalbed lê met  vier verpleegsusters ….” Sy nuwe weergawe lyk so:  “Toe ek verlede Sondagnag in my hospitaalbed lê terwyl vier verpleegsusters met my werk …..” Nuanseverskil, nie waar nie!

Dis nie die punt nie. Erger dinge volg in daardie eensame hospitaalbed met die genoemde vier aan’t woel na die voetenent se kant toe,  en ander verpleegsters  wat om die gordyn loer, wat ‘n kompliment kan wees of nie.

Sarel skryf hy het homself lê en bejammer, want hy het pyn en lyding deurgemaak weens ‘n blaas vol gestolde bloed. ‘n “Bloedstollende” belewenis. Drie weke tevore het hy ‘n prostaatoperasie ondergaan. Dit het gou beter gegaan. Op ‘n Sondagoggend begin hy egter massief bloei en is laatmiddag noodgevalle toe gebring.

“Daar lê ek toe en kyk na my weerkaatsing in die afgeskakelde TV-stel bokant my bed. Met ontblote onderlyf, kaal, naak, gekoppel aan ‘n kateter wat vroeër die aand in noodgevalle ingesit is. Ek is in die Kardiologie-saal opgeneem omdat Urologie/Ginekologie vol was. ‘n Senior suster van Urologie/Ginekologie (maar met ‘n naamplaatjie waarop net haar naam en in groter letters GYNAECOLOGY staan; nogal!!), het kom help. Die susters by Kardiologie werk mos nie met my soort probleem nie. Suster Nel was duidelik baie bekwaam en in beheer. Drie Kardiologie-suster het toegekyk hoe dit gedoen word. Soms hand gegee. Nog nuuskieriges het telkens om die gordyn kom loer.

 “Vier keer daardie nag het suster Nel my blaas gespoel. Wat ‘n baie ongemaklike en pynlike ervaring! Met ‘n dik spuit het sy deur ‘n vertakking van die kateter water tot in die blaas gespuit en dan met dieselfde spuit onttrek en in ‘n emmer leeggemaak. Keer op keer, terwyl ek wriemel en bibber. Deur ‘n inlaatpypie is sakke vol water na my blaas ingevoer en deur die kateter uitgetap. Maar kort-kort het die kateter weer verstop geraak. Dan moes ‘n suster die plastiekpyp kom frommel en buig totdat die water met bloedstolsels weer vrylik uitgeloop het.

 “Teen die volgende oggend – ná ‘n nag waarin ek nie geslaap het nie (en my medepasiënte dalk ook nie) – was die bloedstolsels min of meer uitgetap, en kon ek teater toe geneem word. Daar is die bloeding met kouterisering (toeskroei) gestop.”

 Nou-ja, die uwe is maar ‘n sensitiewe siel. Vir Sarel het ek laat weet: Ek lees sy relaas deur skrefiesoë om aan die volle impak te ontsnap. Ek sidder. Hoe broos is ons arme manlike spesie nie…. 

 Maar vroue kry ook hul beurt. By die geboorte van Johan, ons seun, het ‘n klomp leerlingverpleegsters kom inloer. Een van die toeskouers  vra later vir my vrou: “‘Onthou jy my, ek is Wolf se suster?””  Wolf was saam met haar in matriek. Vroutjie se lakonieke kommentaar:  “Sy kon Jakkals se niggie gewees het sover dit my toe aangaan het!”

 In hospitale verrig die medici en hul verpleegspanne deesdae natuurlik wondere met die menslike lyf.  Ek verkies egter maar om nie te weet wat alles onder narkose gebeur nie. Selfs die skeerproses is ‘n vagevuur.  En ‘n kateter!

 Dr. Goehart (dr. Ryno Verster) wat tot 80 ‘n mediese rubriek vir Die Volksblad geskryf het, het op ‘n keer gelamenteer: “Hulle sit ‘n pypie deur elke gaatjie en as jy nie genoeg gaatjies het nie, verskaf hulle vir jou meer!”

 Dit alles laat my dink aan ‘n moontlike parodie op ‘n versie oor die ouderdom wat in my hekelboekie “Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof” verskyn het:  Deur elke denkbare kanaal/van anaal tot urinaal/ druk die dokters ‘n naald /so dik soos ‘n paal!

 Naskrif: In Die Volksblad is ‘n keer berig van ‘n kerk se buitengewone kateter (pleks van kateder). Die lakonieke Paul Marais het opgemerk: “Baie gerieflik vir lidmate met blaasprobleme!”

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page