top of page

‘BIETJIE STOUT’ OOR MANDELA

Uitmelkbos

Net ‘n week ná 2 Februarie 1990 maak die dinamiese nuwe leier F.W. de Klerk toe weer groot nuus – hierdie keer met die vrylating van Nelson Mandela. Daaromheen pleeg die uwe toe ‘n stoutigheidjie wat in bepaalde kringe nie met akklamasie ontvang is nie.

Maar laat ons chronologies die saak benader:

Saterdag 11 Februarie is koorsagtig agter die skerms gewerk om al die los drade vir die epogmakende aankondiging oor die dag en datum vas te knoop. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was toevallig in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch, ietwat afgehaal omdat De Klerk wat die hoofdis op die program sou wees, deur “ander, belangriker sake” weggehou word.

Maar terwyl die Broers die aand sesuur die aankondiging oor Mandela op die TV-skerm volg, wie stap skielik daar in? Die Man van die Oomblik self, Broer F.W.! Die atmosfeer was tintelend. KWV se Roodeberg en Chenin Blanc is uitgehaal om feesvierende glasies te klink.

Later bel pres. George Bush die De Klerk-woning en laat ‘n boodskap. De Klerk bel terug. Uit die sitkamer van die manjifieke plaasopstal met sy swaar geelhoutbalke. Hy word o.m. deur ‘n dankbare Bush na die Wit Huis genooi.

Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die huisbaas, Piet Carinus, later met ‘n breë glimlag mee, maar die moenie bekommerd wees nie; sy kantoor sal kom regmaak.

Nee, kap dié terug, die geld soek hy nie; net die tjek, asseblief – as ‘n aandenking van ‘n gedenkwaardige aand.

Sondag 12 Februarie, nadat ek lank gewik en geweeg het, besluit ek, terug in Bloemfontein, dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek voeg die daad by die woord. Ek gaan egter uit my pad om vertroulikheid te eerbiedig; noem glad nie die AB of die plaas of die eienaar se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was.

Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Vroeg die Maandag 13 Februarie vroeg is die vet in die vuur. Die AB is ontsteld. Ander UR-lede ook. Die President van die land is in die verleentheid gestel. Prof. Peter de Lange, Voorsitter van die AB, raai strammerig aan dat ek liewer self Tuynhuys toe bel.

Wat ek toe dadelik doen.

Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n “bietjie stout”, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie; ek hoef ook nie te hê nie.

Dankie, sê ek, ek wou ‘n mooi rubriek oor hom skryf, nou sal ek dit nog mooier maak. Moenie, skerts hy terug, as hy dit lees, sal hy weet ek bedoel dit nie opreg nie; daar is ‘n bymotief.

Einde van daardie episode. Ai, as alle haakplekke met die pers maar so gemaklik en flink gehanteer kon word! (HvD)

(Uit: Kroniek van ‘n Koerantman, Tarlehoet-uitgewers, 1998)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page