top of page
  • Uitmelkbos

BIER EN KULTUUR


Kollege se “Booze”-klub van 1959

‘n Gaping in die geskiedenis van die Aula, my alma mater Tukkies se hart van die uitvoerende kunste, verdien om met sy heropening gisteraand opgediep en aangeteken te word. Hierdie joernaalskrywer is bereid om die takie te onderneem.

Net ses Tukkies van die era rondom die eerste opening, op 6 September 1958 met ‘n konsert deur ons eerste eie prima donna, Mimi Coertse, ken daardie stukkie geskiedenis van binne. Ons was almal lede van Kollege-tehuis (toe nog op die kampus) se berugte “Boozeklub” van daardie dae. “(In ordentlike geselskap is na die “Boozeklub” eufemisties as die “Bierklub” verwys.)

Oorspronklik was ons agt. Twee is egter oorlede. Vrydagaande het ons gewoonlik Tant Bella (die Hotel Belvedere in Kerkstraat) besoek. Ons kaptein het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê “rum” is dit “rum”, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap!

Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate pilare van hul gemeenskappe geword. Maar dit net terloops.

Wat hier relevant is, is dat die eerste verjaardag van die Aula, wat ‘n deftige okkasie was, in 1959 saamgeval het met ‘n besonderse byeenkoms van die “Boozeklub” op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) – minder deftig as die Aulastorie maar ewe gedenkwaardig en kwalik onoortrefbaar in vrolikheid.

Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister is. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.

Ons het die brassery almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.

Ek bemerk die drag vir vanjaar se heropening was dagpakke en tradisionele drag. Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aanpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra.

In elk gevalk met pouse beweeg van die statige gaste toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en die Aula se stoep op te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.

‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede”skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.

Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Het ook vir Mimi daar hoor sing: opera-arias maar o.m. ook die aangrypende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi”(Schatsli/Skatjie) as toegif.

Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike asters na die een of ander Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang. Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page