top of page
Uitmelkbos

BIBBERASIE OOR ‘N BAADJIE

Die Britte raak minder stywebolip, lees ek in die koerant.

Wonder of ‘n ou nou al met n leerbaadjie aan mag gaan brekfis eet in die East India and Devonshire Club naby Piccadilly Circus in Londen. Sou daardie ou nasie nog ‘n bibberasie kry as jy ongedas en in ‘n kortmouhemp in die voorportaal van die klub opduik?

Met daardie weleerwaarde klub in die Wes-Einde het die uwe in die 80’s kennis gemaak danksy die wederkerigheidsbeginsel toe hy – hoogste van hoge ere! – die eerste redakteur van Die Volksblad was wat die portale van die Bloemfontein-klub as lid kon betree.

Die ou kamertjies was maar piepklein, maar die “smoking room” met sy leermeubels en mure tot heelbo uitgevoer met kreunende boekrakke het jou nogal vernaam laat voel as jy daar jou Van Rhijntjie aansteek.

Nog ‘n plesier was ‘n lang Ingelse brekfis in die ornate eetkamer met sy swaar silwer eetgerei waar die Britse edeles saam met hul roosterbrood, gebakte eiers en varkworsies aandagtig die Times of die Telegraph van hoek tot kant sit en belees.

Een oggend daag ek vir ontbyt op in my netjiese swart leerbaadjie. Dadelik word ek voorgekeer.

“You have to wear a jacket, sir” – klem op die sir.

“ I am wearing a jacket.”

“Rules require a decent jacket, sir.”

Ek moes mooitjies my spoggerige baadjie met sy vier knope en vier sakke op die voorpante gaan verruil vir die eenvoudige baadjie van die enigste pak klere in my bagasie.

“Thank you, sir.”

Op dieselfde besoek klim die kwik tot ongekende vlakke. Ek wil die dag “toeris-toeris” speel en daag op my pad uit in die voorportaal op met kortmoue en sonder ‘n das.

“Sorry, sir, not allowed.”

Op die foto kan die resultaat gesien word van die improvisasie om my behoorlik genoeg te kry om by die voordeur uit te glip. Tokkie het my tot die onmiskenbare wrewel van die deurwag in sy swaelstert so op die trappies van die East India and Devonshire afgeneem.

Ja, dis ‘n denim, ‘n rooi das, kruisbande en ‘n windbreker!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page