Ek wonder of ek al iets oor die Denker geskryf het. As ek nie het nie, dan moes ek al. Daar’s sekere standbeelde waarvan almal die name ken, maar as mens hulle in lewende lywe (!) sien, dan weet mens hoekom. Soos Rodin se Denker, daardie trietsige dag in Parys.
Gister hoor ek toevallig ‘n skrywer met sy uitgewer gesels oor die voorblad van sy nuwe boek. Een frase trek my aandag: “Daar moet beweging wees.” Sekerlik het hy nie verwys na die manier hoe ek gewoonlik ‘n foto neem nie (dit wil sê die kamera beweeg terwyl ek die knoppie druk en die resultaat is ‘n flop). Die beweging, tref dit my, is soos die beweging van ‘n goeie standbeeld. Hy staan stil, maar hy beweeg.
Ek was oor die Paastyd in Bloemfontein. Hier is geen Statue of Liberty nie, ek weet. Die dorp haal die reisgidse omdat daar geen ander hoofstad in die Vrystaat is nie en as hulle dit weglaat, nou ja … dan is hulle seker maar onvolledig. Maar ek het ‘n sagte plek vir die stad. En verskeie standbeelde hier het my en my metgeselle se aandag getrek.
My seuntjie se hoogtepunt-standbeeld was by ‘n speelplek met die naam Bugs & Beetles. Hier was ‘n massiewe robot. Twee! “Is hy rêrig?” het my seuntjie gevra terwyl hy trots dié se been vashou en ek die (bewegende) foto neem.
Mandela se standbeeld op Naval Hill was ook ‘n hoogtepunt op verskeie maniere. Terwyl ons op die heuwel was, was die donderwolke aan die opbou en ek het gedink: nou is ons te hoog en te naby aan die FM-toring om my gemaklik te laat voel. Maar letterlike interpretasies ter syde: Mandela is vir ewig jonk op Naval Hill, sy gebalde vuis sal nooit sy greep verloor nie. Selfs gestroop van die man se ikoonstatus, is die standbeeld ‘n vergestalting van ewige jeug en krag. En ek het saam met hom oor die stad gekyk en my eie jeug herleef. (Dis jammer die Arthur Nathan-swembad is nou so groen en toegeslik! Ek hoor darem iemand gee aandag hieraan. Maak dit reg, toe?)
Die Vrouemonument se mees onvergeetlike standbeeld hierdie slag vir my was Afskeid. Ek kyk daarna en ek weet dis alles emotief en doelbewus: die pap baba, die vrou se hartseer oë en die man se terugdraai na haar, die hand wat nie wil laat gaan nie. Maar ek kan nie anders nie; dit voel soos poësie in beweging. ‘n Uitbeelding van die laaste strofe van By ‘n sterwende kindjie: “Sy wil nie gaan nie.”
Terug in Stellenbosch sien ek iets oorkant die straat van ons kantoor. (Ek steel die foto van die skepper hiervan se Facebookwerf af, dankie, Strijdom van der Merwe.) En ek besef my kriteria van wat ‘n standbeeld is, word weer op sy kop gekeer. ‘n Standbeeld kan tweedimensioneel wees en tog driedimensioneel wees. So is dit dan met standbeelde, lyk dit vir my.
So is dit dan met ‘n swaar standbeeld. Mens kyk na hom en as mens wegstap, dra mens daardie sware kilogramme met mens saam. Want ‘n goeie standbeeld staan stil. En tog beweeg hy.
Want hy staan stil, maar hy beweeg jóú.
Commenti