top of page

Besielde keuses

Uitmelkbos

Kobra, deur Deon Meyer. Resensie: Bennie Griesel (Boeke24) Deon Meyer het met harde werk en skitterende verhale ’n amper onaantasbare figuur geword. Wie kry mens om sy jongste werk te resenseer – iemand wat die maksimum aantal lesers sal lok, en elke woord laat inneem? Probeer self daardie een antwoord. Jo Prins het iemand opgediep wat mens half oorbluf laat – die Kaapse regter Bennie Griesel. En die waagstuk slaag. Griesel is nie geknel deur die jargon van die joernalistiek nie, en skryf met ’n gemaklike, leesbare styl. Hy skryf onderhoudend, maar uiteindelik ook argumenterend. Wanneer hy uiteindelik tot die besluit kom dat hierdie Meyer se beste boek nog is, is jy heeltemal oortuig. Meer hiervan, asb!

Kobra, deur Deon Meyer. Resensie: Andries Wessels (Boeke24) Andries Wessels se resensie kan allermins beskou word as ’n soort kontrole-resensie vir Bennie Griesel s’n. Wessels is ’n gesiene akademikus en die kere dat hy boeke geresenseer het, het hy homself met oortuiging laat geld. Maar ek kon nie help om tog sy resensie as ’n soort kontrole te lees nie, en ongeldig soos my gebruik ook was, beaam hy vanuit sy hoek die strekking en oordeel van die Kaapse juris. Wat my wel tot ’n mate kwel, is die feit dat Wessels die eggenoot is van die boek se uitgewer. Die feit dat hy ingestem het om die resensie te skryf, suggereer dat hy geen probleem daarmee gesien het nie. ’n Mens moet ook aanneem dat as hy nie van Kobra gehou het nie, hy dit sou geskryf het.

Baarde, briewe en barmhartigheid, deur Doc Immelman. Resensie: Joan Hambidge (Boeke24) Joan Hambidge het vir my gevoel ’n bietjie minder gereeld bocke geresenseer vanjaar as in die verlede, soveel so dat ek al begin wonder het wat aan die gang is. Sy kom hierdie keer amper rumoerig aan die gang. Mens slaak eintlik ’n sug van verligting. Hambidge is terug. Daarna pak sy rustig haar indrukke uit, op ’n manier wat paslik hulde bring aan Immelman se bydrae in die verlede om Afrikaners oor hul gunsteling-onderwerpe aan die lees te kry.

Bokspronge, deur Stephen Nell. Resensie: Wynand Claassen (Boeke24) Nog ’n besielde keuse van resensent. Om ’n voormalige Springbok-kaptein en -keurder te kry om ’n boek oor rugby te bespreek, is ’n uitstekende besluit. Veral omdat Wynand Claassen bekend is daarvoor dat hy nie ’n groefwandelaar is nie. Hy het ’n paar bedenkinge oor Stephen Nell se boek, maar in die geheel is dit ’n resensie wat duidelik maak dat hier geen sensasionalisering aan die orde is nie. Claassen kon miskien een of twee van die brokkies “vergete nuus” aangehaal het om die leser te interesseer.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentarios


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page