top of page
  • Izak de Vries

Berigte ter velde

Madlala loop op en af in ons voorkamer. Hy begeer daardie Eos (sien my eerste blog oor die Sexpo), maar hy is werklik depressief oor die xenofobie in Gauteng.

“Nou weet die blikskottel hoe ons whiteys soms gevoel het in die apartheidsjare,” sê ou Kassie en drink so ’n slukkie gedokterde Coke.

Ek wil nie direk daarop kommentaar lewer nie, maar besef dat ek nie kan help om simpatie te hê met wat Kassie sê nie.

Madlala is nou so middelklas soos ek en ou Kassie. Hy woon in ’n beter buurt as ek en sy huidige ryding kos meer as myne en Kassie s’n saam.

Toe sien hy die Eos. Slim bemarking om ’n kar neer te sit voor ’n man met ’n stywe ... gevoel.

Die probleem is dat hy pas weer met Kassie se vrou gepraat. Julle weet dit nog nie, maar Kassie se vrou is ’n bobaas-advokaat. Sy is egter een van daardie mense wat nie speel vir groot geld nie. Sy is deurmekaar met Prokureurs vir Menseregte en ’n hele aantal ander organisasies.

Laasnag was hulle in Alexandra. Eish. Dis sleg wat daar gebeur.

Die vorige nag was hulle ook daar. Ou Kassie trek maar net sy skouers op. Hy sê sy seun wou weet hoekom skiet die polisie daar waar Mamma is.

“En wat sê jy?” vra ek.

Kassie sê hy’t vertel dat daar slegte mense is wat ander mense aanval en Mamma is daar om te help sodat niemand seerkry nie.

“Maar is dit so eenvoudig?” vra Madlala.

“Dalk,” sê Kassie. “Dis waarvoor die monitors daar was in die apartheidsjare.”

En dalk nie, dink ek.

Ek en Madlala het mekaar juis jare gelede in die townships van Pietermaritzburg leer ken. Ons was jonk en het nog hare gehad. My hare was lank, tot op my skouers, syne was in ’n moerse afro.

Dit was hel. Die IVP het wapens gekry van die regering en hulle het desperaat die ANC se opmars na die verkiesing probeer keer.

Ek en my ou pel weet wat dit is om in ’n kerk te sit terwyl daar outomatiese gewere van albei kante af knetter. Ons weet wat dit is om te marsjeer met baniere terwyl die polisie rubberkoeëls skiet. In het korte, ons weet hoe dit voel om te wonder of die huis waarin ons nou sit, vannag afgebrand gaan word.

En hier is ons weer. Bloed vloei in die strate. Bloed vloei in die townships. Mense skuil in kerke.

Dis net, my pel, Madlala, kan dit nie hanteer nie. Ons sit veilig in Kaapstad. Hy woon in ’n spogbuurt. Ek in ’n meer nederige buurt, maar albei van ons is veilig.

Kassie se vrou, aan die ander kant, is dáár. Sy ryk persverklarings uit, looi swak polisiedienste en prys die polisie wat wel hulle agterente afwerk.

“Die polisie is moeg,” sê sy. “Gisteraand moes hulle op ’n stadium terugtrek om meer rubberkoeëls te gaan kry. Iemand het gesê hulle het toe al meer as 30 000 uitgeskiet.”

En hier is Madlala. Hy is skaam. Hy is skaam vir die feit dat hy ryk is. Hy is skaam vir ons eie mense wat ander aanval.

Destyds was dit Jakob Zuma, die einste Showerhead, wat in KwaZulu-Natal gesorg het dat Gatsha se mense praat het met die jong Turke in die ANC. En moenie Blade Nzimande se werk vergeet nie.

En nou? Wie gaan dit wees? Wie gaan die leier wees wat in Alexandra sal kan inloop en sê: Ons is broers, ons is susters?

Wie gaan die tolk wees?

Die IVP het hulle amptelik gedistansieer van die geweld, maar die berigte ter velde is verdoemend. Kassie se vrou sê die klaers praat van die IVP. En die Mail & Guardian (16 – 22 Mei 2008) berig dat die IVP se Bongikosi Dlamini aanvanklik die muiters wou vra om nie aan geweld deel te neem nie, maar toe hulle ongeduldig raak met hom, het hy, volgens die koerant, gesê: “The IFP argued that the Constitution should, in fact, say that South Africa is a South Africa for all that were born in it, however, the ANC, as usual, did not listen to us.”

Nou wat het dit met Madlala se Eos te doen?

Niks. En dis juis die punt. Madlala kyk nou na homself in die spieël en hy weet hy sal veilig wees as die Rwandese, Ghanese, Nigeriërs en Zimbabwiërs hier in die Kaap aangeval sal word. Hy weet egter nie of sy huishulp, wat tussen dié vlugtelinge bly, veilig sal wees nie, al praat sy Xhosa.

En hy weet, so goed soos ek en Kassie, dat dit mense soos Kassie se vrou is wat minstens iets doen. Sy gaan in. Sy gaan praat.

En Madlala weet dat dit ons wit velle was wat destyds daar in die township gemaak het dat die IVP versigtiger moes wees, want hulle het geweet ons praat uit. Die polisie ook – in daardie tyd was die polisie nie regtig aan ons kant nie. Maar die wit polisiemanne het tog getwyfel as hulle wit velle sien.

Die probleem is: Ek is nie meer jonk nie. Ek het ’n knaap om voor om te sien.

En Madlala? Hy weet dat ’n Eos net so vinnig sal uitbrand as ’n ou skedonk wanneer ’n dronk skobbejak ’n brandbom daar sou ingooi. Dis hoekom jy óf wegbly, óf jy ry nie ’n duur kar nie.

(Lees gerus Carl Niehaus se blogs oor Alexandra. Ek is ’n storieverteller, en ek sal nog meer skryf oor seks en die liefde, want dis waarvan ek hou. Dit raak egter ons almal wat daar in Diepsloot en in Alexandra aangaan. My eie vrou, soos Kassie s’n, het gaan marsjeer. Sy was daar. En die mense kry seer. Ons móét hulle stories ook vertel. Toe, wat sê julle?)

0 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page