top of page
  • Uitmelkbos

BELYDENIS VAN ‘N MESDIEF


Die dak van die wonderskone Sistynse kapel

Almal wat al ‘n geliefde knipmes in ‘n boks by die laaste kontrolepunt op ‘n lughawe of elders aan “sekuriteit” moes prysgee, ken die skerp pyn van verlies. Ek ken iemand wat op die lughawe net daar omgespring het om ‘n koevert te gaan koop en haar Leatherman – ‘n geskenk van ‘n geliefde – vir vriende te pos. So is haar waardevolle besitting op die nippertjie gered.


‘n Boer maak n plan, lui die gesegde. Nie in elke noodsituasie met ‘n dreigende mesverlies is dit egter strategies haalbaar om om te spring en ‘n alternatief te bedink nie. Soms ontbreek die tyd eenvoudig. Soms was dit klaar so ‘n enorme operasie om tot by daardie kritieke punt te vorder dat omdraai ondenkbaarder is as om maar vir ‘n stukkie van jou hart tot siens te sê.


Die Sistynse Kapel in die Vatikaan bevind hom bepaald in laasgenoemde kategorie. Om daar in te kom om Michelangelo se kunswerke te bewonder, moet jy vroeg roer en nie van die ongeduldige soort wees nie.


So gebeur dit toe dat ‘n Vrystaatse boer en sy gade op ‘n eerste besoek aan Italië, en ‘n eerste abortiewe besoek aan die kapel omdat hulle die vorige dag te laat by die regte hek opgedaag het, uiteindelik saam met twee vriende voor in die tou staan. Maar o wee. Messe en ander potensieel skadelike instrumente moet asseblief daar in ‘n groot boks gedeponeer word.


“Waar kry ek dit weer?”


“Jy kry dit nie weer nie.”


Hierdie stuurse mededeling dompel onse boer in diepe vertwyfeling. Sy Joseph Rogers is nie sommer so ‘n mes nie. Dit het karakter en ‘n geskiedenis wat ‘n bundel kan vul. Sy Pa is daarmee deur allerlei avonture, en voor hom ook sy Oupa. Hy is die derde generasie wat die erfstuk in voogdyskap hou.


Nou het die pynlike oomblik aangebreek dat die ketting skynbaar deur ‘n meedoënlose burokrasie se onverbiddelikheid verbreek gaan word; hier in die verre vreemde russen mense wat nie jou taal praat of die taal van jou hart kan vertolk nie.


Nadat sy vurige pleidooie als op dowe ore geval het, besef die boer hy’s by ‘n kruispad. Om sy mes waaraan soveel sentiment kleef, goedsmoeds in ‘n boks te smyt en weg te stap, breek sy hart. Aan die ander kant het hy ver gekom en lank gewag om te kan staan onder die manjifieke dak waar die groot meester meer as vier jaar lank, regopstaande, agt ure per dag, ses dae per week intensief geskilder het.


Die boer swig, skiet sy mes met ‘n laaste verlangende blik in die boks en betree met die swaar gevoel van verraad in sy hart die wonderskone gange wat miljoene de miljoene besoekers al aangegryp en selfs tot trane beweeg het .


Buite die kapel, bespreek hy en sy drie reisgenote die grootse ervaring. Almal is verruk, maar hy bly sugtend oor sy mes, en wonder vir oulaas of hy mie tog maar die sielevoedsel van Michelangelo se skilderkuns moes opgeoffer het om sy mes te behou nie.


Vir oulaas?


Inderdaad, want op die daardie oomblik delf sy vriend in sy baadjiesak en haal ‘n gehawende Joseph Rodgers te voorskyn.


“Hier’s jou mes.”


Dit blyk al die bewakers van die Vatikaan het hul aandag vir ‘n oomblik dermate verslap dat die boks onbewaak gestaan het. Die vriend gryp toe sy kans en “steel” blitsvinnig sy vriend se dierbare mes onder die Italianers se neuse uit terug.


Die boer was oorstelp.


“Dit was nou ‘n edele diefstal,” stem ons almal saam toe die “mes-dief” ons nou die aand aan ‘n etenstafel op Melkbos in sy geheimpie inlaat.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page