Vandag presies twee maande gelede, op 16 Februarie 2012, het ek ‘n brief aan Kerkbode gestuur met wat ek en baie ander nou nog beskou as ‘n konstruktiewe, versoenende benadering tot die Belhar-konflik. Om redes wat nie aan my bekend is nie, het Kerkbode nie die brief gepubliseer nie.
Trouens, geen erkenning van ontvangs het my ooit bereik nie. Die indruk is moeilik te vermy dat die benadering van Kerkbode is: wie nie VIR die Belhar is nie, is TEEN die Belhar, TEEN die Kerk, TEEN die sinode, TEEN Kerkbode … en sommer TEEN die Heilige Gees ook, te oordeel aan die onnadenkende uitsprake van sommige dominees.
Die inhoud van daardie brief was die onderwerp van my blog van 17 Februarie 2012. Daardie blog herhaal ek vandag in die hoop dat dit iewers nog ontvanklike snare kan raak. My “uitweg” het nogal die vorige keer positiewe reaksie uitgelok.
Ek stuur dit ook aan Kerkbode se redakteur, sonder enige verdere kommentaar, buiten dat ek my hoop daarop vestig dat hierdie blog dalk ‘n redaksionele gewete kan roer oor die vorige hantering van ‘n goed bedoelde lesersbydrae. Daardie behandeling sal kwalik enige moreel-etiese joernalistieke toets kan slaag.
Hiermee weer my blog van 17 Februarie:
Die brief hieronder is gister aan “Kerkbode” en ander kerklike forums gerig. Ek herhaal dit hier omdat dit vir my, wat die politieke broederstryd van die 80’s intens beleef het, werklik ‘n saak van erns is dat ons op kerklike terrein ‘n ewe felle broederstryd tot elke prys vermy.
Weerstand teen die Belhar-belydenis op die grondvlak van die ouer generasie in die NGK gaan nie sommer
net wegraak nie. Ongelukkig word die omvang egter deur kerkleiers onderskat – derhalwe ook die potensiaal van tweedrag en vervreemding van lojale lidmate.
My kompromie is ‘n nuwe belydenis vir ‘n nuwe tyd´- een wat ook die positiewe in Belhar beliggaam maar sonder die verdelende politieke bagasie. Onder diegene wat daarmee akkoord gaan, is swaargewigte op vele terreine, ook teologiese swaargewigte. Een wat ‘n lang pad intiem met die kwessie saamkom, noem dit die “enigste werkbare alternatief”.
Verblydend is dat, ter wille van die Groter Saak en van vrede en versoening, selfs by sekeres wat die nodigheid van enige bykomende belydenis ernstig bevraagteken, ‘n gewilligheid tot kompromie bestaan.
So lui my brief van 16 Februarie:
In my kring van gewaardeerde, gerespekteerde vriende is die hele Belhar-spektrum verteenwoordig: van entoesiastiese omarming tot absolute verwerping. Wie het al die wysheid in pag om te oordeel wie die absolute waarheid beet het en wie nie?
Moet die NGK werklik hierdie sensitiewe saak op die spits dryf? Is dit in die kerk se belang om hieroor opnuut tweedrag te ontketen en lojale lidmate te vervreem? Wat is dan fout met ons mense dat ons so graag tot die bittereinde ‘n saak wil uitbaklei terwyl ‘n versoenende alternatief reddend ter hand is?
Die oplossing vir die dilemma is tog duidelik: ‘n nuwe belydenis vir die nuwe era – een wat, saam met die ou grondwaarhede, ook die opbouende in Belhar beliggaam – maar sonder die politieke bagasie waaroor die weë op die oomblik grotendeels skei.
NGK en VGK het kreatiewe teoloë wat uitmuntend toegerus is vir die verantwoordelike taak van ‘n vars formulering vir vandag wat werklik die saak van versoening dien. Soos ons almal saam ‘n nuwe Grondwet kon uittimmer wat op ‘n breë basis van vaderskap kon reken, het ons in die kerk dieselfde uitdaging voor ons. Dit is ‘n verrykende uitdaging – ons mag gewis nie daarvoor terugdeins nie.
Waarom dan teruggryp na ‘n ‘noodkreet´ uit die verlede as die geleentheid hom voordoen om kraakvars , eietyds en vernuwend te dink? Ek begryp werklik nie.
Van ‘noodkrete” gepraat: beskou asseblief hierdie briefie ook as een. Dit is wat dit is.
Comments