top of page
  • Uitmelkbos

BEKOORLIK OF ONBEHOORLIK?



Lieflike aand op Melkbos se strand

Aitsa. Nou is ons bekoorlike dorp (dorpie) darem vir jou behoorlik op die mêp! As jul kan jol soos ons kan jol, dan jol jul in die “sittie hol”!

Moet bely die ou man is ietwat uitgeboul met “Die Burger” se voorbladnuus vanoggend oor al die kooi-kaskenades. Meeste buite-egtelike verhoudings in die hele Kaap, verbeel jou!

Weet wel van een of twee Melkbossers wat “Rapport” en/of “Huisgenoot” (dalk selfs “Son”) gehaal het, en nie in die sportuitslae-kolom of die TV-programskedule nie. Het ook tot my verbystering gehoor die ACVV het ‘n keer op ‘n kerkbyeenkoms vir oumense komplimentêre kondome uitgedeel. Maar het regtig nooit gedink ons melk-en-heuning-tuiste se bekoorlikheid setel in ons onbehoorlikheid nie.

Trouens, ek dag ons lang strande en eindelose seetonele is Melkbos se groot bates. Ook die hemelse uitsigte op die berg in sy verskillende kleurskakerings. Om nie te praat van die Weskus se skilderagtige sonsondergange nie. Die gemoedelike rustigheid. Die geselligheid …

Ek dag party buitestaanders dink aan Melkbos as die tuiste van die “bose” Koeberg – “O, die arme drommels!” Party weet dalk van onse fynbos-gholflandgoed wat in vele opsigte toonaangewend is. Party ry net op die N7 verby op die “Great Namibian Highway” en sien die yslike nuwe paaienetwerk wat by die Melkbos-afdraai tot stand kom.

Maar nou: nou’s ons darem voor in die koor met iets gans anders, hoor. Boonop – glo dit as jy wil – die “tweede stoutste” woonplek in die Kaap.

Laat my dink aan die storie hier uit die Swartland op ons drumpel. Die leraar kom rapporteer somber aan sy kerkraad die gemeente is nou tweede in die ring met drankverbruik. Antwoord die een ouderling hulpvaardig: ‘Moenie ‘worrie’ nie, dominee. Ek sal met die ‘boys’ praat. Ons kan nie ‘settle’ vir tweede nie!”

Maar laat ons nou nie oor die “binne-inligting” van die here (seker dames en here!) Ashleymadison.com te opgewonde raak nie. Soos ek Melkbossers ken, is hulle (met die prominente en plek-plek dalk ook minder prominente uitsonderings) ‘n doodgewone gemeenskappie, sout-van-die-aarde-mense, betroubaar en eerbiedwaardig, met wisselende libido’s altemit, maar darem nie so dat dié wat op daardie terrein uithang, ons dorp in die skande steek nie.

Kortom, het julle, liewe lesers van hierdie blog, al van iets soos ‘n reklamefoefie gehoor? Broers en susters, hier’s hy. Ashleymadison/com soek duidelik nuwe klandisie. Nou kom vis hy hier op Melkbos se droë duine.

Daarmee “Uit Melkbos”: “Ik heb gezegd.”

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page