top of page
  • Uitmelkbos

BARMHARTIGHEID OF ARMHARTIGHEID?

Om hulpvaardig barmhartig te wees of om hardvogtig armhartig te wees?

As jy volgens die Bybel wil leef, is dit ‘n gekke vraag. Gebrek aan barmhartigheid is ‘n gruwel – punt.

Wat die die regte ding is om te doen, weet ‘n mens egter nie aldag so mooi nie. Faktore soos vrees vir veiligheid kan ‘n deurslaggewende faktor word of jy uiteindelik ‘n Samaritaanse voet voorsit of nie.

Dan sluip ras ook ongelukkig in, want persepsies is diep gewortel oor uit watter oorde die grootste gevaar vandaan kom – ondanks daardie bose klomp wit skandemaker-stropers van die Bosveld.

Gister het ek ‘n geleentheid tot barmhartigheid doelbewus gesystap. Die vraag wat my daarna kwel: was ek doodgewoon armhartig of was ek dalk net versigtig en verstandig?

Die feite:

Ek, ‘n 69-jarige gryse, my vrou, Tokkie (64), en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas (6), ry van Welgemoed na Melkbos. Naby die Durbanville Hills-kelder, daar waar jy links draai N7 se kant toe (nie ver van Dunoon af nie), staan ‘n motortjie langs die pad.

‘n Jong man (van ‘n herkoms wat raspersepsies na vore laat kom) spring half voor my in en swaai woes met die arms. Die indruk is dat hy hoog in die nood is. Vir ‘n oomblik aarsel ek. Toe wys ek met my hand na die slapende kinders op die agtersitplek en ry verby.

My vraag is of ‘n skuldige gewete aangewese is of nie. As dit ‘n lokval was, sou ek my seker blootgestel het aan die verwyt van onverstandigheid .

“Het die dwase ou man dan nie gedink aan sy weerlose vrou en kleinkinders in die motor nie?”

As daardie man werklik diep in die nood was, het hy egter die agterkant van die silwer Honda bepaald nie met ‘n goeie gesindheid agterna gestaar nie. Dan het ek nie net my Christelike plig versaak nie, maar ook tot verdere polarisasie bygedra.

Ek is werklik gepla, want dit kon ek gewees het wat wanhopig met my arms staan en swaai het. Maar dan ook: het al wat leef en beef dan nie vandag selfone nie? Ten tweede: was dit nie juis op die N7 dat ‘n Melkbosse dominee hom laat skemer in gietende reen in ‘n lokval vasgery het nie?

Een meneer het daardie aand met sy bolyf op die teer gele; sy gewapende makkers het in die bosse geskuil. Die ongelukkige einde van die abortiewe rooftog was dat die waaghals in die pad nie betyds voor die aankomende motorligte kon padgee nie.

‘n Mens sidder oor wat met die dominee en sy vrou kon gebeur het. Maar daar is bepaald ook hope stories met ‘n ander, gelukkige einde. Die slotsom: ek weet werklik nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page