top of page
  • Izak de Vries

Barack Obama dra nie das nie (en dis ’n probleem)


Diegene wat nou al lank my blog lees, sal weet ek is ’n groot Obama-ondersteuner. Op ’n manier was die feit dat Hillary ’n vrou is nie genoeg om my van haar te laat hou nie. Maar weet julle wat? Ek is benoud oor Obama se kanse. Hoekom? Lees Zakes Mda, dan sal julle sien.

Ek gaan nou-nou iets oor Mda sê, maar eers net gou die volgende:

  1. Obama is uiters gewild onder liberale, vrydenkers. As jy ’n graad het, van die VSA is en jonger as 40, is die kanse baie groot dat jy gaan Obama stem. Maar as jy nie ’n graad het nie ...

  2. Obama gebruik die internet en die selfoon. McCain en die televisie-evangeliste gebruik die televisie.

  3. Obama dra nie ’n das op die voorblad van sy boek, The Audacity of Hope nie. Duh? Wel. Kyk ’n bietjie na die televisie-evangeliste. Hulle dra almal das. En wie is televisie-evangeliste se mark? Arm, werkersklasmense sonder grade.

  4. Obama sal nie sing “Bomb, bomb, bomb Iraq” nie. McCain het. Die gemiddelde Amerikaner wil graag “them towelheads” in hulle moer stuur.

  5. Obama gaan nie vir Putin en sy marionetpresident met kernwapens dreig nie. Die gemiddelde Amerikaner dink steeds dat kernwapens nie skadeloos gemaak moet word nie.

  6. Obama is swart.

  7. Obama skryf boeke. Die meeste Amerikaanse kiesers kyk televisie.

Wat kan McCain vir die werkersklas bied? Niks. Net mooi niks. Onder die twee Bushe het die werkersklas feitlik alle sosiale veiligheidsnette verloor.

Wat kan McCain vir die “swart” (lees Indigenous American, Afro-American en Hispanic American) kiesers bied? Die antwoord begin met f en dit eindig met l.

Waarom stem so baie blouboordjiewerkers en swart Amerikaners dan vir McCain? Lees Zakes Mda se Cion om te verstaan waarom McCain ’n baie goeie kans staan om te wen – tensy Biden baie, baie sterk na vore kom en McCain behoorlik begin opdôner. (Ten tyde van hierdie skrywe is Biden nog nie amptelik bevestig nie.)

Mda se Cion is ’n vernietigende, maar tog simpatieke, blik op die Rednecks in die VSA. Die verteller is ’n swart man, ’n Suid-Afrikaner, iemand wat self werkersklas is. Met Cion wys Mda vir ons dat die VSA nie ’n gesofistikeerde land is nie. Die gemiddelde Amerikaner is oorgewig, ’n TV-slaaf en baie bang vir mense wat anders is as hulle.

Europeërs het, na die Tweede Wêreldoorlog, andersheid gevier. Hulle het jongmense aangemoedig om met buitelanders te trou, hulle was nuuskierig oor mense en kulture wat hulle nie ken nie. Europa verander tans, maar hulle is steeds ligjare voor die VSA.

Daar is wonderlike, ongelooflike Amerikaners. Ek is baie gelukkig om intelligente Amerikaanse vriende te hê. Ek volg die Obama-kampanje reeds sedert 2004, maar gaan dit werk?

As dit waar is dat Biden die VP gaan wees, dan moet Obama hom toelaat om, gepak en gedas, kru en hard op McCain af te kom. Biden moet toegelaat word om, op sy tipiese voet-in-die-mond-manier, daagliks met McCain die spot te dryf.

Die waarheid is dat Obama se charisma en brein nie genoeg is om die VSA te verlos van derde Republikeinse termyn nie. As jy wil weet hoekom nie, lees Zakes Mda.

Terloops, Cion is ’n opvolg op die wonderlike Ways of dying, maar jy hoef nie Ways of dying te lees om Cion te verstaan nie.

Die boeke is by goeie boekwinkels en Kalahari.net te kry. Hier is ’n paar skakels wat kan help.

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page