top of page
Uitmelkbos

"BALOONS, BALOONS BY ‘N TOETS!"




Die sirkus langs die veld by gisteraand se Twintig20-krieketwedstryd op die Wanderers was waarskynlik nie erger as die stuitighede wat maar altyd by sulke okkasies opgedis word nie. Dalk was dié ou grysaard maar net buitengewoon broos en weerloos na ‘n hewige sinus-aanval. Al wat ek weet, is dat dit ‘n naarheid in my laat opstu het wat my na ‘n paar stywe doppe kasterolie laat smag het.


Van die danseressies met hul swaaiboudjies in hul satyn-sjoebroekies, tot die hipermoderne kommentators met hul kontorsies wat eerder soos gesimuleerde seks in ‘n Soho-nagklub lyk as sport-uitsaai, was so onuitstaanbaar dat ek sou gaan slaap het. Ek wou egter graag vir Albie Morkel sien kolf. Dit was die opoffering werd.


Oor die Babelse gedawer van musiek wat vermoedelik uit die een of ander Johannesburgse hool na die Wanderers oogeplaas is, swyg ek liewer. Oor die uitasem-onderhoudvoerdertjies met hul gebrekkige elokusie is ek eweneens stom.


Wat het dan skeefgeloop in groot sport dat dit, veral in Suid-Afrika, so hartverskeurend vervlak het – met Shark Flashers in hul sexy swempakkies, Bulls Babes in oprygsteweltjies en hul ander stoute sustertjies by Super 14-rugby tot by die studentikose kaperjolle van sogenaamde Fanatical Fans by toetskrieket?


Hier rondom die 80’s, toe die Britse Leeus (dink ek ) in Suid-Afrika getoer het. het die dekadensie al begin intree met Simbaleeutjies wat op die veld bly kaperjol het nadat die spelers al opgedraf het, trosse balonne wat losgelaat word en later enorme vuurwerkvertonings wat die Chinese vervaardigers moes uitgelate laat bokspring het, soos hul Regering nou oor die ANC se dwase hardvogtigheid teenoor die Dalai Lama.


My vriend Pierre le Roux van Mosselbaai was daardie jaar by die toets op Loftus as gas van die vermaarde Springbok-agtsteman van die 50’s Daan Retief, toe markmeester in Pretoria. Na die eindfluitjie is die tradisionele post mortem oor ‘n drankie by Retief se motor op Loftus se B-veld gehou.


Pierre onthou terwyl ander die wedstryd ontleed, het Retief net kopskuddend staan en prewel: “Baloons, baloons by ‘n toets!” Hy het dit verskeie kere herhaal asof hy die verskynsel nie kon glo nie.


Arme Daan Retief! Min het hy toe kon raai hoe die klem nog al hoe meer weg van die sport en al hoe meer in die rigting van vermaak sou skuif.


Ag, ‘n mens wil nie altyd ‘n suur ou klakous wees oor alles wat so anders geword het as waaraan jy gewoond was nie, maar ek wonder darem …


Ek wonder of al hierdie opgesmukte vertoon werklik is wat deesdae se sportskares en TV-kykers verlang.


Ek wonder hoeveel ware sportliefhebbers nie al so vervreem is deur al die tedoe buite-om die sportkragmetings self dat hulle liewer ver wegbly nie.


Ek wonder of ons sportbase nie tot hul eie skade op die lange duur ‘n generasie sportkykers kweek vir wie dit nie regtig om die sport gaan nie, maar om die vibe, om in te wees,om deel te wees van die jol.


Ek wonder, ten slotte….. en moenie skiet nie,meisies! … waar is al die feministe (as daardie term nog politiek korrek is) wat so dawerend swyg oor die sportbemarkers wat jong vroulike lywe so uitbuit om mense deur hekke van stadions te laat stroom of voor die TV-skerm vasgenael te hou.


Moenie vir my sê die huidige bewakers van die vrou se reg om nie net as sekssimbool uitgeveil te word, kriewel nie as hulle jong meisietjies so gretiglik sien saamspeel om juis presies daardie beeld uit te dra nie.


Of is die oormag eenvoudig te groot?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page