Vanaand na die wonderlike “Christmas Collection” van Phil Coulter geluister. Sy vingers op die klawers laat ou Kersgunstelinge soos “Stille Nag”, “O Holy Night” en “Mary’s Boy Child” nuut klink.
Hy sluit af met “Auld Lang Syne”. Daarna het ek twee keer geluister.
Sal ons ou kennisse ooit vergeet?
Terwyl ek luister, was voor my die beeld van ‘n jarelange vriend, ‘n gesiene man, wat ek vanoggend in sy karaktervolle studeerkamer agter sy lessenaar aantref. Soos ‘n vors. Hy het bo ‘n netjiese hemp aan …. en onder ‘n doek.
Om ons stry naaste familielede teen longe wat nie meer hul werk kan doen nie. More is dit chemoterapie vir party. In die hospitaal is ‘n vriend op die naat van sy rug na ‘n rugwerwel-fusie en ‘n kollega met ‘n bloeiende maagsweer.
Om my heen is ‘n halfdosyne bekendes wat in die laaste paar maande weens hul prostate met die skalpel en kateters kennis gemaak het. Kardio-vaskulere chirurgie moes op andere uitgevoer word. Alzheimer begin sy tol eis. Nuwe hart-pasaangeërs is ingeplant.
Die dinge wil nie ophou nie. Om oud te word. is nie pret nie, voorwaar.
Sal ek maar weer “Auld Lang Syne” opsit en ‘n glasie rooiwyn skink?
Comentarios