As hulle in Frankryk reis, byvoorbeeld, is hulle voor in die koor met hul “silvous plaiz” ’s en “merci” ’s. In Suid-Afrika kan hulle om die dood nie “asseblief” of “dankie” deur hul lippe pers nie.
In die briewekolom van vanoggend se Die Burger word daardie ou lotjie voor stok gekry deur iemand wat onder die naam Groot Verbruiker uit Overstrand oor die afskeep van Afrikaans deur winkels en kassiere saamgesels.
‘n Mens wil nie altyd op die oorlogspad wees oor jou taal nie, maar jy kan ook nie altyd stilbly nie. Groot Verbruiker maak ‘n geldige punt dat kassiere “tog seker intelligent genoeg (is) om net “dankie” te sê in Afrikaans – ons verwag nie ‘n gesprek nie.” Ek ondersteun hom graag volmondig.
Hy merk ook op (ewe geldig) dat reisigers deur die wêreld binne dae woorde in ‘n vreemde taal leer wanneer hulle ander lande besoek.
Dit bewys mos hier te lande bestaan ‘n klomp vooroordeel en weerstand. Ons geld is goed genoeg, maar ons taal moet maar tweede viool speel – dit maak ‘n mens opstandig.
Groot Verbruiker se opmerkings herinner my aan n idee wat ek aand om ‘n kampvuur gehoor het. Dit is daar by die een oor in en die ander oor uit, maar ek dink dit het nogal meriete dat ons, soos langs die vuurtjie voorgestel is, ophou om “please” en “thank you” te sê.
Ons kap daardie woorde eenvoudig uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê – nie uit onhoflikheid nie maar ter wille van groter wedersydse hoflikheid.
Diegene wat nie weet (of wil weet) wat dit beteken nie, sal hopelik mettertyd agterkom.
Comentários