top of page
  • Uitmelkbos

AS LERAARS STAAK …


Dr. Francois en sy “Pop”, Riana Hanekom.


Geweet hoekom predikante nie staak nie? Omdat niemand dit sal agterkom nie. Die wysheid by Bybelstudie gehoor – nogal uit die mond van ‘n predikant. Die spitsvondige dr. Francois Hanekom, eerste leraar van die NG gemeente Melkbosstrand en nou, ná sy aftrede, bedienaar van die 75-plussers in die gemeente, is dikwels so ondeund. Ook van die kansel af.

‘n Keer het hy sy gemeente nog regopper as gewoonlik laat sit toe hulle sy preektema verneem: “Hou jy van ‘striptease’?” Maar dit was darem net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois Hanekom. .

Die hulpmiddels waarmee hy sy boodskappe beklemtoon, is legendaries. Hy het bv. al ballonne laat bars, geraamde foto’s van die kansel gewerp dat die glas in stukkies spat, ‘n rooi bra aan sy vinger geswaai of met poppe, teddies, ander speelgoed, iinspuitnaalde, selfs vermomming vorendag gekom.

Dr. Marius Falck, medeleraar, onthou ‘n Sondag toe dr. Francois se keuse geval het op ‘n Pyrexbak uit sy “Pop” (mev. Riana Hanekom) se kombuiskas – boonop een waaraan sy buitengewoon waarde heg. Sy was orrelis. Toe sy van die orrel (destyds nog op die galery) afkyk, val haar oog op haar kosbare bak in sy vreemde rol.

Sy het verstyf en deur dun lippies uitgepers: “Mannetjie, vandag gaan ek jou vrek maak.” Francois kon net antwoord: Ai, Pop, ai ….., aldus kollega Marius.

‘n Dominee se treffendste hulpmiddele is helaas nié altyd immuun teenoor die “onvoorsiene” nie. ‘n Keer het die “onvoorsiene” pynlik toegeslaan. Dit was toe Francois met boeie die houvas van die sonde wou demonstreer. ‘n Meisie van so plus-minus 10 kom op sy uitnodiging vol bravade na vore. Sy word met presiesheid “geboei”.

Toé tref die onheil – die sleutel wil om die dood nie die boeie oopsluit nie.

Terwyl die geproes en gelag in die gemeente al ‘n crescendo bereik, gaan skakel die koster die polisiehoof. Die geregsdienaar hou met die vangwa voor die kerk stil, natuurlik met skreeuende bande! “Pop” speel en speel. Die dominee en die verskrikte meisieskind word weggeneem polisiekantoor toe. Eers daar word die regte sleutel gevind. Die volgende oggend het Francois Die Burger se voorblad gehaal: Leraar se “gevangene” vas ná boeiende preek. ‘n BOEIENDE preek, inderdaad.

By die feesdiens met die kerkgebou se 30ste verjaardag was hy op die kansel. Voor die diens is die lidmate op ‘n geestige toer deur die vroeë geskiedenis geneem. ‘n Konneksie van die kerk met ‘n kroeg word toe onthul.

Klink gelukkig erger as wat dit werklik was. Die verkoper van die grond, Harold Ashwell, ‘n eiendomsbaron na wie ‘n spogstraat van Melkbos genoem is, en verteenwoordigers van die gemeente Philadelphia waarvan Melkbos afgestig is, het afgespreek om die koopkontrak by die Hotel Miramar in Kusweg te teken.

By die hotel aangekom, was die sitkamer onder reparasie, Die kroeg was al uitweg. Die manne het darem nie die transaksie met ‘n dop beklink nie, het dr. Francois bekommerdes verseker.

Anders as sy destydse kollegas, dr. Marius en dr. Hennie Swanepoel, is dr. Hanekom geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”

‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois Hanekom is, breek die son gou deur die wolke.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page