top of page
  • Uitmelkbos

As Jy ooit ‘n vlermuis wil vang …..


As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy stertjie en wag ….

Oor die geldigheid van die stukkie advies in ‘n ou-ou kinderliedjie laat ek my liewer nie uit nie. My tema is in elk geval nie leeujag nie, maar vlermuisjag. Vir daardie doel word ‘n direkter metode aangeraai: ‘n skepnet van ‘n swembad.

Vir die beste resultate kan mev. Tokkie van Deventer se dienste gerus bekom word; sy swaai daardie net met ‘n behendigheid wat ‘n mens verstom. Sy verloor ook nie haar ratsheid met die jare nie ….

Haar debuut as vlermuis-afweerder was al ‘n dekade gelede.

‘n Lelike verteenwoordiger van die orde chiroptera wat helder oordag in die woonkamer begin duikbewegings oefen het, is eers sonder welslae deur die uwe met opgerolde sokkies bestook.

Met die ratser, meer gemotiveerde Tokkie kon hy egter nie so maklik kat en muis speel nie. Sy tref hom met die skepnet en hy syg bedwelmd op die vloer neer. Verligting alleweë. Beelde het begin opdoem van die nare karakter wat nes maak in ons hare of snags oor ons slapende gesigte swiep.

‘n Verbete vrugtevlermuis-aanslag op die nagapies se piesang ‘n stuk of vyf jaar later wek my teensinnige bewondering vir die swiepende figure se vermoë om in die pikdonkerte doodsekuur op hul teikens af te pyl. Die armswaaiende van Deventers word telkens net-net gemis.

Toe neem Tokkie weer die skepnet op. Elke keer as die swaaiding om hulle swiesj-swiesj, ontduik hulle dit met spoed en grasie. Maar Tokkie het nie haar slag verloor nie. Ten einde laaste pen sy een tussen die apies se piesang op die piesangtafel vas. My vriend Manie Steyn van Krugersdorp is dadelik by met ‘n kierie. Een vrugtevlermuis minder.

“Die opfoetering van die fledermaus” het wyle Sannie Steyn die operasie later genoem. Die oorlede vlermuis se makkers het daar en dan besluit: liewer Bang Jan as dooie Jan. Met ‘n laaste uitdagende verbyvlug is hulle die donkerte in.

Vanjaar is die vrugtevlermuis weer op hul stukke. Elke aand sak hulle op die stukkies piesang toe met ‘n gesinchroniseerde lugaanval.

Vir die tweeling, Jacob en Thomas Claassens uit die verre Kaap, het dit nogal opwinding bygedra – veral om te hoor van ouma se reputasie met die skepnet om haar geliefde apies teen die onplesierige diere se attensies te beskerm.

Met die een en die ander het sy nooit tot ‘n demonstrasie oorgegaan nie.

Maar die kinders was net terug by Kommandeurstraat 3, Welgemoed, toe ‘n dringende roep my stoep toe laat storm. ‘n Yslike vrugtevlermuis lê die skepnet kant en wal vol. Wriemelende en sissend. My taak was om vir die kinders met die selfoon ‘n foto te neem – wat ongelukkig nie skitterend was nie.

‘n Ruk later hoor ek dieselfde dringende roep. Nommer twee lê vasgepen in Tokkie se net. Die geluide wat hy voortbring, sou ons ook graag t.w.v. die kinders op die selfoon verewig. Ek is terug in die huis, maar hoe dit gekom het, weet ek nie: die vrugtevlermuis is heen sonder dat HvD sy toets as klankingenieur geslaag het.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page