Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos, skryf Dawid de Wet in sy vriendelike Litnet-resensie van “Bure van nature”.
Hy skryf: Ek was baie geseënd om as kind baie tyd in die Krugerwildtuin te kon deurbring. My oom was die hoof van spyseniering in “die wildtuin”. In ’n tyd van buffelvleispasteie met slaptjips vir middagete en wit lapservette. ’n Tyd voor kettingwinkels. My oom-hulle het in die personeeldorp in Skukuza gebly. Ben was ’n koedoe wat elke dag oor die lae heining gespring het om in die tuin aan allerlei groen blare te kom peusel. Die heining was eerder daar om nuuskierige hiënas saans uit die werf te hou. Soms kon my neef nie met sy fiets na die laerskool toe ry nie, want daar was manne met tanne op die dorp se gholfbaan of krieketveld. Dikwels was dit ’n seekoei of rooibok wat in die slag gebly het. Ouers is dan baie mooi gevra om die kinders maar self by die skool se hek te kom besorg. Ek het vele sorgelose dae in die bos tussen die huise spandeer. Dit was vir my nooit genoeg nie.
Almal wat al tyd in die Laeveld spandeer het, sal jou kan sê dit is sintuigwêreld. Die flikkerende vlamme van ’n Combretum– (kierieklapper-) vuurtjie, die vroegoggendgeluide, soos dié van ’n fisant wat lank voor sonsopkoms die nag se nuus uitblaker, die laatmiddagreuk van oewerbos, en die rillings langs jou ruggraat as jy skielik bewus raak van die hiëna agter jou kampstoel.
Hennie van Deventer se Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur is ’n boek vol stories van ontmoetings met wilde diere in ’n wilde wêreld. Die verhale wat Van Deventer, lank verbonde aan Naspers, hier deel, is oor ’n tydperk van 20 jaar in Sabiepark, ’n privaat natuurreservaat teenaan die Sabierivier en aangrensend aan die Krugerwildtuin, versamel.
Ek het van die beskrywing van die gebande muishonde gehou. “Die bangjanne in hulle geledere sal sommer ’n agteroor-salto uitvoer as hulle ’n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei.”
…….
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang.
……..
Dan is daar nog stories van likkewane in die dak, leeus op die wandelpad, luiperds op die stoep en hiënas wat alles vreet wat in sig is. Natuurlik ook slange: luislange, Mosambiekse spoegkobras en die gevreesde swart mamba. Vir iemand wat daar huis moet hou, is die streke van blouape en bobbejane dalk nog erger.
Diep binne-in ons is daar tog ’n heimwee, ’n tipe verlange na so ’n lewe in die bos. Watter ander woonbuurt kan dan spog met ’n inwonende luiperd? Nogal met ’n naam soos Vin Diesel. Dit is net jammer dat die buurt se vlakvark, Brood, ook onder Diesel moes deurloop. En wie kan die vloed van Februarie 2000 vergeet?
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang. Ek ruik en proe en sien “die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse teen die donker naghemel” wat oorslaan in ’n sagte reën. En dan verlang ek ook.
Sabiepark klink vir my soos die ideale woonplek (as jy die insekaanvalle en breekskade van viervoetiges ignoreer). Jou huis is in die wildtuin en die wildtuin in jou huis. Duikertjies en bloukuifloeries word bekendes en kameelperdgeboortes kan van die stoep waargeneem word.
Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.
Comments