Ons leef maar 70 jaar, en as ons baie sterk is, tagtig, skryf Moses in sy bekende gebed in Psalm 90:10. As jy ‘n hoë en rype ouderdom begeer,kan jy, volgens Moses, dus jou teiken op 70-80 stel – en dan is jy blykbaar bevoorreg.
Ouma van Wyk het die Bybelwoord graag profeties aangehaal. Tokkie se antwoord was klokslag: Ja, maar waar lees ma in die Bybel van bloeddruk-pille? Ouma het op drie weke na 99 geword (Moses het self 120 bereik, maar dit was natuurlik ander tye!)
Met die al hoe gesofistikeerder medisyne en tegnologie styg die lewensverwagting inderdaad oral.Om tot 70-80 te leef, word deesdae as normaal geag. Eintlik sterf jy “vroeg” as jy nie so oud word nie. Of nie?
Wil nie vandag filosofies oor die ouderdom raak nie. Skielik tref dit egter – te midde van ‘n seisoen van sware siektes en sterfgevalle in die nabye kring – met hoeveel springlewendige 80-jariges of amper 80-jariges ek en Tokkie bevoorreg was om net in die laaste week of drie sosiaal skouer te kon skuur.
Ons Bloubergse vriendin Molly Loubser (op die ankerfoto regs) word op 24 Junie 80. Omdat ons dan in Sabiepark is, het sy en Danie Grundlingh (net links van haar, bo) ‘n Sondag of twee gelede by ons kom eet. Danie trek by 85. Wie sou kon raai Molly is op die drumpel van 80 en Danie is ‘n halwe dekade al by die 80-kerf verby?
Wiets Beukes (net links van Molly, onder), oud-redakteur van Die Burger en ‘n assistent-redakteur by Die Volksblad toe ek in 1958 as studentewerker die eerste keer by Voortrekkerstaat 79 (nou Nelson Mandelarylaan 79) ingestap het, is, wat ouderdom betref, Danie se karperd. Hierdie skerp, joviale en gesonde 85-jarige was verlede Saterdag ‘n gewilde gas by die bekendstelling van Johan van Wyk se boek, So was dit, in die Strand. Wiets pendel omtrent tussen Franskraal en Kaapstad.
Ook by daardie geleentheid was Ben van Rensburg (heel links, onder) my ou woonstelmaat in Bloemfontein in 1965, wat later ‘n bekroonde motorredakteur van verskeie publikasies geword het. Ek kon Ben enkele dae gelede met sy 82ste gelukwens. Hy woon nou op Stellenbosch.
‘n Flinke Melkbosse egpaar van 80 plus is Ronnie en Anita de Bruin (heel links, bo). Ronnie was skoolhoof van Mikro op Kuilsrivier “lank-lank gelede”. Tennis het sekerlik ‘n bydrae gelewer om hom so jonk te hou. Anita is vir my die toonbeeld van ‘n elegante dame … en ek bedoel DAME. Hulle het verlede Maandag aan ons tafel gesit.
Aan dieselfde tafel was ds. Jan Venter (net bo Wiets Beukes) en sy vrou, Marthie (in die middel, onder), wat aan die vooraand van ‘n dubbele 80-herdenking in die volgende maand is. Ds. Jan. oud-kapelaan, preek nog ‘n hond uit ‘n bos. Die twee toer graag die wêreld vol.
Die oudste aan daardie tafel was ds. Ockie Raubenheimer )Heel links, bo), op sy dag groot gees in die NG Kerk en ‘n baanbreker in die Londense gemeente van die kerk. Hy is al 88. Hy woon in Parklands maar kom gereeld Melkbos se kerk toe.
Maar selfs 88 is ook maar nog net 88. Gert Terblanche, aktiewe 90-jarige oud-politikus en oud-Volksbladman, het in hierdie dae op die Volksblad-familieblad op Facebook opgeduik. Hy was my generasie se eerste nuusredakteur. Hy was later senator,LV en ambassadeur. Oom Gert (op die foto op sy plaas, Rooikraal, by Bloemfontein) het pas ‘n boek oor sy grootwordjare in die Steynspruit-omgewing geskryf. Die finale uitleg word nou gedoen. Hy vier op 4 Oktober sy 91ste.
Hoop maar almal se pensioene hou!
コメント