top of page
Uitmelkbos

AS DIT LOL IN DIE LUG

Wie luister na veligheidsaankondigings op vliegtuie?

Ek wil nie lelik wees met die spesie lugpendelaars nie. My indruk is egter dat hulle in die algemeen nie ore het vir die mededelings oor nooddeure, suurstofmaskers, reddingsgordels onder die sitplek en daardie klas ding nie.

Trouens, die meeste vroetel voort, gesels of blaai verwoed in die lugdiens-tydskrif om daarmee hul vlak van sofistikasie te beklemtoon – “ons vlieg só dikwels dat ons nie hoef te luister nie!”

Met Airlink se vliegtuie wat deesdae nare ‘insidente’ inryg – vyf in ses maande! – kan situasies ontstaan dat ‘n mens nogal jammer raak dat jy nie geluister het nie, reken ek. (Kom ons los dié onderwerp maar liewer daar, ander sê ek netnou iets oor Airlink se bemanning waaroor die Gelykheidshof my dalk gryp!)

My eintlike punt is om Kulula ‘n pluimpie te gee. Waar die algemene praktyk is om die aankondigings lusteloos af te rammel, gee Kulula syne woema met ‘n skeutjie humor.

Nou die dag toe ons op Lanseria opstyg. sê die Kululua-kêrel byvoorbeeld die kanse dat ons ekstra suurstof sal benodig, is omtrent só gering as dat Julius Malema ooit sal sin praat. ‘n Proesbui het van ry een tot by ry dertig getrek. (By Mango sou dit ry 32 gewees het – hulle pák jou in!)

Ewenwel ek het ook al ‘n Kululua-meisie vroom hoor aankondig: diegene wat kan swem moet links uit die vliegtuig in nood, dié wat nie kan swem nie, “ dankie dat u met Kulula gevlieg het!” Nogal spitsvondig.


In die 60’s is die eerste Holiday Inn in Suid-Afrika by Mtubatuba geopen. Persmense is met ‘n gehawende DC-6 van die Randse lughawe gevlieg vir ‘n Romeinse “bacchinaal”. Ons het op rolle fluweel skuins gelê en wyn gedrink uit reuse-glasbekers wat goud gespuit is.

Die ou Douglas was ‘n wonderlike vliegtuig, die eerste met lugdruk-beheer in die kajuit, genoeg ruimte om vryelik te beweeg en eersteklas-diens deur oulike lugwaardinne. Daardie spesifieke ou het duidelik al deur die meule gegaan, met stukkende matte en só.

Toe die Pratt & Whitney Double Wasp-motore begin brul, seg die vlieënier krakerig” : “Ladies and gentlemen, in case of any extra oxygen being needed ………we’re all buggered!”

Daardie speelse opmerking het my vir die duur van die vlug – totdat ons op Mtubatuba met ‘n gewone bouersleer tot in ‘n vragmotor se bak moes klim – nogal met intense konsentrasie regop laat sit!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page