top of page
  • Uitmelkbos

ARRIVEDERCI, OPERA


Nadat ek met my kierie aan land is in Lüderitz kry ek onder die deur van kajuit 8195 (La Traviatadek) ‘n nota ek moet 99 skakel. Dit doen ek met bewende vingers. ‘n Nooientjie met ‘n fraaie aksent verneem besorg of ek darem so net met die kierie die mas opgekom het. “Must we arrange for a wheelchair for the disembarkation?”

 My vriend Kobus Victor van Durbanville het met sy kierie soortgelyke simpatieke response (en voorkeurbehandeling) uitgelok.  Geen toue vir die kieriekommando nie!  Dis bedagsame, respekvolle mense, die Italianers en anderlike lede van die groot Opera-familie van 700 siele.

 Ook sindelike mense.  Alles wat koper is – meters der meters relings en wat nog – word sonder ophou gepoets. Elke krummeltjie wat op die grond beland, word deur skoonmakers met doeltreffender kontrepsies (soos ons sogenaamde “poop scoops” vir honde) dadelik opgetel.   Toe ‘n bord val, word die area afgesper en summier ‘n span ontplooi om die skerwe te verwyder.  Waarskuwingsborde verskyn op die toneel: Cleaning in progress.   Moet tog nie gly en val nie.  

 Die swembadwater word daagliks in- en uitgepomp. Dit skitter soos saffier in die vier groot baddens.  Groot oranje swembadhanddoeke (Vrystaat!) vir die skare sonaanbidders raak nie op nie. Gaan vra maar net ‘n skone. Die spierwit handdoeke in jou badkamertjie word soggens en saans voor die voet vervang. Sitkamers, ander openbare ruimtes, gange en kajuite word alles eksieperfeksie gehou.

 Ontstaan ‘n probleempie, kry dit onmiddellike aandag.  Ons sien een oggend voor ontbyt ‘n skoonmaker fronsend voor ‘n pilaar in die aangename sitkamer die Piazza di Spagna op dek 5 (Aidadek) vassteek.  ‘n Gaatjie so groot soos ‘n R5-munt het sy aandag getrek.  Hy vloog daar weg en die volgende oomblik is ‘n uniform-ou daar, skryfbord in die hand. Die aand is die gaatjie weg.

 Pierreen Esther le Roux in 8199 sien ‘n watertjie langs die haardroër teen die muur van hul badkamertjie afloop en maak alarm. Voordat jy kon se mes, is een van die 110 loodgieters aan boord aan’t werskaf in die dak.    

 Om amper 2000-stuks passasiers te verskuif – na die noodstasies vir ‘n sekuriteitsoefening, van die skip af by Walvisbaai, op die pendelbote na Lüderitz en uiteindelik met die finale uitklaring by die doeanemense en die aan wal gaan aan die einde van die reis – verg fyn organisasie.  Boeta, hierdie ouens ken hul storie.  As dit geel se beurt is, is dit geel se beurt. Dan moet jy spring.   

 Omalles te kroon, doen hulle alles met ‘n glimlag.  Jy sien net tande, al gaan dit druk en al sukkel die kommunikasie soms.  Hierdie wellewendheid spoel oor op die passasiers.  Vreemdes word vriende, selfs Tukkies en Maties voor die TV-skerm. Net jammer die Maties wen toe met ‘n strafskop in die doodsnikke….

 Die desibels van party musiek het sensitiewer siele soms ore laat toedruk.soos Flip Nel op die foto demontreer.  Maar in dieselfde teater het ons toertjies gesien wat regstreeks uit die glansryke Lido in Parys kon kom: dans, balanseertoertjies, “toorkuns”… En toe Dean Martin se That’s Amore op die Italiaanse aand opklink, was die versoeking groot om hardop saam te neurie:  “When the moon hits the sky like a big piece of pie, that’s amore …”

 Arrivederci, kaptein Raffaele Ponti en jou span. ‘n Trefferdeuntjie uit die 50’s draai in my kop.: “I’ve built a dreamboat to sail the seas, with you by my side when it sails …”    Die Opera is so ‘n droomskip.


Sail away, sail away ….

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page