top of page
  • Uitmelkbos

ARME APIE SE YS-LIKE VAL

Die eerste ses, sewe jaar van ons Sabieparklewe het nagapies alleen geheers op Tarlehoet s e stoep. Saans was alle aandag op hulle; alle gekerfde piesangstukkies ‘n kado’tjie vir hulle.

Toe gewaar Brent en Marisa, ons skoonseun en dogter, enkele jare gelede die vreemde dikstert-dier met die knewel-hande in die gewone pendoringboom by die swembadjie. Hulle bel dadelik Melkbos toe vir ‘n identifikasie, maar hul beskrywing slaan my dronk.

Dalk die muskeljaatkatjie? waag ek.

Later bel hulle terug: Nee, nie ‘n muskeljaatkat nie, volgens die boek is dit ‘n bosnagaap.

Skielik het die groter en forser bosnagape met die spoggerige sterte dus ook die piesangroete na Tarlehoet ontdek. Tot vier bosnagape daag op een slag op. Laasnag was daar, te oordeel na die gille en die hoop mis vanoggend, heelwat meer as vier!

Die wedywering tussen die twee faksies is geweldig. Die “moholi’s” weet hulle moet roer. Anders is dit neusie verby.

Ná die bosnagape se verskyning op die toneel is drie piesangs die aand die norm. Ons het al tot R3 ‘n piesang in Skukuza moes betaal. Dit is nogal ‘n aansienlik belegging in die kulinere behoeftes van my vrou se gunsteling-diertjies!

Hoe die kleintjies, soos wafferse akrobate, teen die growwe baksteenmuur op- en afklouter sonder om gereeld op die grond te beland? Hulle piepie eenvoudig op hul handjies. Dit is ‘n buitengewoon taai en klewerige vloeistof.

Maar ‘n seisoen van nagapie-neerstortings breek wel tog een winter aan. Elke dag moet Tokkie kleintjies red. Een krul hom op in een van my gehawende ou Green Cross-sandale, wat Jan Scholtz van Bloemfontein verbeeldingryk “Journey’s end” gedoop het. Die apie pas presies in die holte vir die toon.

Gisteraand kom een ou ‘n ysliker verleentheid oor as om net grond te proe. Hy het blykbaar sleg gekorrel, en beland by vriespunt kerplaks! in die swembadjie. Toe ek hom bemerk, is hy besig om met sterk hale vir sy lewe te swem.

Hy haal die kant veilig, skud die ysige, nat, lyfie woes en mik, nog kroeserig, vir die piesangtafel.

Nou weet ons: nagapies kan swem. Een ding minder waaroor Tokkie haar hoef te bekommer!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page