top of page
  • Izak de Vries

Annelie Ferreira: Ek is 'n sterk Jungiaan


Foto van die outeur se Facebook-bladAnnelie Ferreira skryf vir alle ouderdomsgroepe. Sy het al sukses behaal met haar jeugverhale, en haar onlangse novelle Maar Tintin in Tibet spreek die leeftyd van jong volwassenes aan. Die twee hoofkarakters is op universiteit – nie meer deel van die jeug nie, maar ook nog buite die dampkring van die ernstige volwassenes. Ek wou by haar ook weet wat sy dink van my vrae oor jongvolwasseliteratuur. In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte? Die vraag is al so kundig deur die ander skrywers beantwoord, ek het min om by te voeg. Behalwe dat ek meen die kategorieë vir nie-volwasse lektuur neem toe soos die lewe meer kompleks raak en nis-behoeftes raakgesien word. Maar goeie stories word steeds gelees deur (amper) alle ouderdomme. Ek weet van mense in hul vyftigs wat nog nooit kans gesien het vir Lord of the Rings nie (oukei, dis ek), terwyl jy kinders van tien kry wat dit verslind (oukei, dit was een van myne). Maar jy kry ook jeugboeke wat met groot bevrediging gelees word deur grootmense (ek gee 'n paar voorbeelde later). Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit? Ek het per ongeluk jeug- en kinderboeke begin skryf. Ek het jare lank gesukkel met 'n roman vir volwassenes wat eindelik aanvaar is as 'n jeugroman, en Dit vat guts geword het. Nadat daardie manuskrip aanvaar is vir publikasie (wat nog twee jaar sou duur), het ek gedink wel, as ek per ongeluk 'n jeugroman geskryf het, kan ek dalk nog een aspris skryf? Toe skryf ek Tot siens, koning Arthur, en dit wen die Sanlam-prys vir jeuglektuur. En toe gaan ek maar so aan... Skrywers skryf sekerlik om verskillende – geldige – redes. Ek make meaning deur wat ek skryf. Ek is 'n sterk Jungiaan, vir wie stories en sprokies (soos drome) 'n simboliese weergawe is van die innerlike prosesse van mense se psiges, maar ook die uiterlike prosesse van hul lewens. Miskien begin al my stories by een of ander psigiese taak vir myself. Ek doen dit nie bewustelik nie – my doelbewuste plan en hoop is net om lekker stories te skryf wat die leser nie kan neersit nie – maar daar is vir seker dieper lae van betekenis in al my verhale. En dan voel ek baie tuis met die humor in kinder- en jeugverhale, en die varsheid, en die egtheid van emosies. Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? Weer eens is hierdie vraag uitstekend beantwoord deur die ander skrywers. Miskien kan ek net ook byvoeg dat, in kinderstories, die uitdagings baie meer simbolies uiteengesit en opgelos word. Diere praat soos mense en het menslike issues, hekse en drake is die duidelik herkenbare baddies en moet op lekker bevredigende maniere verslaan word. Terwyl daar in jeugverhale ook fantasie kan wees, is die probleme en uitdagings meer dikwels reëel, dieselfde as wat lesers in die regte lewe het, of minstens mee kan identifiseer, al het hulle dit nog nie self ervaar nie. Die oplossings moet ook vir hulle in reële terme geloofwaardig wees. As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel? Dis 'n moeilike vraag! Miskien is my gunsteling jeugboek van alle tye The book thief. Dis ook 'n uitmuntende voorbeeld van 'n boek wat werklik vir alle ouderdomme bedoel is. Nog twee ander (en daar is sekerlik nog 'n klomp!) is The curious incident of the dog in the night-time en The secret life of bees.

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page