Vanaand se kwota spot moet gelê word voor die deur van Aziz Pahad. Raai wat sê hy oor Zimbabwe? Hy vertel vandag vir die media dat hulle suig. Hoekom? Want hulle publiseer hulle feite oor Zimbabwe sonder om eers by die regering te kom hoor of dié feite waar is.
Blikskottel. Dink aan hierdie Monty Python-stuk:
Joernalis: Ek was daar, in Zimbabwe, meneer Pahad. Ek het met die slagoffers gepraat. Die geweld is erg.
Pahad: Weet jy. Volgens die regering, en veral ons loflike president, gaan dit eintlik baie goed daar. Dis die Britte wat wil hê ons moet dink dit gaan sleg.
Joernalis: Maar, meneer Pahad. Ek het foto’s! Ek is darem al jare lank ’n joernalis. Ek het voorbereid gekom vir die vergadering.
Pahad: Foto’s? Nee, wat ou seun. Ek het baie foto’s wat ek op Google kan aflaai. Hier is selfs een van ’n kaal ... Oeps. Nee, wat, ons weet almal hoe die kamera’s lieg.
Joernalis: Maar, meneer Pahad. Wat dan van al die Zimbabwiërs wat tans in ons land is?
Pahad: O, jy bedoel almal wat hier kom inkopies doen het? Nee, wat, was jy vandag by die stasie? Daar was honderde Zimbabwiërs wat op pad terug is Zim toe.
Joernalis: Meneer Pahad, met respek. Hulle vlug van die geweld hier in ons land!
Pahad: Geweld in ons land? Nee, wag ou seun, voor jy sulke nonsens verkoop moet ons jy eers hoor of die regering sê daar is geweld in ons land ...
Madlala sê dalk moet die slim man ’n slag letterkunde lees. Almal wat belangstel in die letterkunde kan vir jou sê dat die grootste sprong in die geskiedskrywing gekom het na die Amerikaanse soldate uit Viëtnam uitgekom het en begin het om húlle verhale te vertel. En, dit weet ons almal, daardie verhale het redelik skerp verskil van die VSA-regering se standpunt!
“Ja,” sê ou Kassie. “Ons het bo in Angola gesit en met die radio’s opgevang hoe Pik vir die land vertel dat daar nie ’n enkele Suid-Afrikaanse soldaat in Angola was nie.”
Nou moet ek darem ’n beurt kry om slim te wees: “Het julle gehoor dat die VSA-regering onsuksesvol probeer het om die blogs te stop van die soldate in Irak en Afganistan?”
"Dalk moet jy ’n blog skryf daaroor," sê Kassie en gooi nog ’n knertsie.
コメント