top of page
  • Izak de Vries

Ambagslui

My blog oor die gebrek aan opgeleide blouboordjiewerkers het vrae ontlok wat ek nie kon beantwoord nie, maar ek het nou nuwe inligting gekry. Die Departement van Arbeid het die volgende statistiek bekendgestel:

  1. In 1970 het 5 000 nuwe ambagslui hulle ambagte voltooi. Daarna het die getalle elke jaar geklim.

  2. In 1986 ons die piek bereik en 13 000 nuwe ambagslui is opgelei.

Toe staak die staat (NP-regering!) hulle opleiding en die getalle val drasties. Dit was feitlik nog net die myne en enkele ander instansies wat mense opgelei het as ambagslui.

Verlede jaar het net 3 500 mense hulle ambagtoetse geslaag, maar die toekoms lyk darem beter.

Aangesien elke maatskappy in die land (met ’n omset van meer as R200 000) ’n bydrae van 1% van hulle salarisrol moet afstaan as ’n opleidingsbelasting, kom daar verskriklik baie geld in vir opleiding. Die bedrag wat op dié manier geïn is, het in die 2006-boekjaar alleen R4,5 biljoen beloop.

Dit kos na beraming R300 000 om ’n enkele persoon op te lei.

Daar ís dus geld. Hierdie geld word aan die sogenaamde SETAs oorbetaal, en die SETAs betaal weer die maatskappye wat hulle werkers oplei. Verder is daar belastingvoordele verbonde aan die opleiding van werkers.

Daar is klaarblyklik tans 20 000 mense in opleiding. Ons kom dus daar.

Verder is vier nuwe stukke wetgewing verlede week deur die parlement goedgekeur. Dié vier wette poog om die opleiding van almal, van voorskools, tot die punt van ’n ambag, asook alle grade en alle diplomas te koördineer.

Danksy dié nuwe wette, en samesprekings tussen die Departement van Onderwys en sakelui, begin die rol van die FET Colleges (in Afrikaans VOO-Kolleges) ook duideliker word. Dié kolleges lewer nie ambagslui nie, maar hulle studente kan wel vinniger in die onderskeie ambagte opgelei kan word. Iemand met ’n sertifikaat van so ’n kollege (gelyk aan matriek), sal sekere prosesse in die opleiding vinniger kan baasraak.

Daar is dus hoop, maar ons het steeds twee probleme:

  1. Ten eerste moet ons genoeg opgeleide mense soek wat kan oplei, en

  2. ten tweede lok ontwikkelde lande steeds meer en meer van ons ambagslui na hulle toe.

Nog twee stukkies inligting:

  1. In Pole styg jou salaris na gelang van jou opleiding, wat beteken dat mense met ’n PhD soms sukkel om werk te kry! Pole het egter ook ’n groot tekort aan ambagslui, so die ambagslui wat agtergebly het, verdien ontsettend goed.

  2. En in Frankryk sukkel mense in hulle twintigs tans geweldig om werk te kry, want werknemers soek glo ondervinding.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page