top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Amazing storie...

DEUR 'N ANDER BRIL Al die pad af­draande.

Dít is seker wat alle ma’s heimlik vir hulle kin­ders hoop. Dat hulle hul myl­pale sal bereik, dat hulle goed sal vaar op skool, dat die juffrou­ens en die maats van hulle sal hou, dat hulle geluk­kig sal wees, dat nie­mand hulle te na sal kom nie. Veral dit — dat nie­mand hulle te na sal kom nie.

Dis hoe­kom ma’s soms bisarre goed aan­vang soos om te dreig om ander kin­ders (óf onder­wysers óf ouers) te lyf te gaan.

Dit het die oog­kun­dige net drie toetse ge­neem om vir my te sê: “Sien jy wat ek sien?”

Ek het gesien, maar ek wou nie. Ek wou dit nie hoor nie. Ek wou dit nié hóór nie.

Op die groot stoel met die baie ratjies en wiele­tjies het my 5-jarige dog­tertjie — die een met die groot bruin oë en die roos­knop­bekkie — skielik ekstra klein gelyk.

Half deur die wind is ons daar uit. Hoe dan nou, Here? het ek verward gevra. Hoe kan dit wees dat die soge­naamde “volmaakt­heid” waar­voor ek elke aand dankie sê as ek by my kin­ders se bed­dens kniel, al die tyd toe nie so “vol­maak” was nie?

Mans is anders. Myne het nie veel gesê nie. Eint­lik niks gesê nie. Later sommer half onbe­skof ge­dreig: “Laat een ie­mand, net een enkele ie­mand, vir haar iets skeefs sê oor die bril, dan blik­sem ek hom!”

Dis nou tipies, het ek gedink. Plaas bid hy, nou wil hy blik­sem...

As ’n mens gaan vir ’n tweede me­ning, dan beteken dit eint­lik (in my geval, in elk geval), jy wil beter nuus hê. Jy hou nie van die eerste nuus nie, en jy sal soek totdat jy ie­mand kry wat vir jou sê wat jy wil hoor. ’n Mens vra vir wonder­werke.

Toe nie.

Ons staan voor die rye en rye kinder­brille­tjies by die Oog­insti­tuut in Pre­toria en ek kan nie op­hou huil nie.

Ek gee nie ’n flenter om of die man agter die toon­bank tien of twee­dui­send kinder­brille per dag maak nie. Ek het nie ’n saak met die Bar­bie- of die Mickey Mouse- of die watse brille daar ook­al hang nie.

Al waar­aan ek kan dink, is ’n vrien­din van my wie se kind só onge­lukkig was omdat sy oor (onder meer) haar bril gespot is, dat sy van skool veran­der het. Harry Potter. Oupa Uil. Totdat sy dit op ’n dag net nie meer kon ver­duur nie.

Kinders kan so wreed soos mons­ters wees. En party grootmense staan soms nie ver agter hulle nie.

“Kyk me­vrou,” sê die bril­man, “hier­die een het pienk krale­tjies op die raam”.

Hou jou pienk krale­tjies, dink ek terwyl ek voor my kind maak asof brille die beste ding sedert spring­mielies is.

“Dis mooi, Mamma, maar ek sê net nou al vir Mam­ma ek gaan nie die bril skool toe dra nie, hoor?” sê my kind met haar gesig in my romp.

Op pad huis toe sê ek vir my­self “sies”. Dis net ’n bril, dis nie chemo nie. Dink aan die Au­camps van Bela-Bela wie se kind om sy lewe veg. Tel jou seë­ninge. Sien die posi­tiewe. Bid vir wonder­werke.

Die vol­gende week veran­der ek my strate­gie. Ek begin brille se lof besing. Hoe mooi hulle is, hoe funky, hoe slim dit ’n mens laat lyk, hoe uniek, hoe wonder­lik.

En ek bid nog steeds vir ’n wonder­werk. Al is die wonder­werk dan net dat my kind prag­tig lyk met die bril en mal is daar­oor.

Enigiets om aan vas te hou. Nogtans sal ons jubel. Ek versterk jou. Ek help jou. U het haar gevorm, haar aanmekaar geweef. Hy sal alles ten goede laat mee­werk. Ek sal jou nooit ver­laat nie, jou nooit in die steek laat nie. Sy kom niks kort nie. Sy is in groen weivelde. Net goed­heid en guns sal haar volg al die dae van haar lewe.

Dis glad nie so erg nie. Brille is só cool.

Maar as my kind met haar groot bruin bokkie­oë vir my kyk, breek my hart in dui­send flen­ters.

Haar sussie kom van die skool af en sê: “Ek het van­dag al die kin­ders in die skool getel wat bril dra. Raai hoe­veel is daar?”

Ek wil raai 30 of 80 of 1 000.

“Drie!” sê sy. “Drie, ek het hulle almal getel.”

Kan nie wees nie, dink ek. Dit kan een­vou­dig nie waar wees nie...

’n Week later is dit tyd om die bril te gaan haal. Ek mag nie saam­gaan nie, sê my man, want “jy huil te veel”.

Ek soen haar hele regter­ogie vol lip­stiffie en kyk vir ou­laas hoe lyk my kind sonder ’n bril.

Twee ure later kry ek ’n op­roep uit Pre­toria: “Mamma, ek lyk só mooi en ek kan sién, ek kan só mooi sien!”

En ek sit by myself en dink: sowaar, ek sal dit van die dakke af skree — wonder­werke gebeur nog.

Dalk nie altyd die nuus wat ons wil hoor nie. Miskien moet ons dit net deur ’n ander bril bekyk.

Net soms dieper kyk as wat die oog kan sien.

0 views

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte gemaak is, dink ek dis tot 'n groot mate op ons van toepassing. Sal

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's Pappa?" Sy sug, vat haar dogter om haar maer skouers en lei haa

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie vergeet het nie, en so nou en dan 'n boodskappie gestuur het (

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page