top of page
  • Uitmelkbos

ALMAL SE OUPA


Die oom met die kruisbande, hoed, velskoene en toegeknoopte hemp kon almal se oupa gewees het …. dis te sê as jy ‘n Weskus-oupa gehad het wat hoed gedra het en kon konsertina speel. Ene Elaine het dadelik in ‘n e-pos gewonder of dit nie dalk HAAR oupa op die omslag is nie.  Hy het hoed gedra en konsertina gespeel.  

Ek het terug ge-e-pos:  “Op die omslag is Oom Theunis van Zyl, tuie-en sweepmaker van Verlorenvlei aan die Weskus. As hy jou oupa was, laat weet asseblief. Johan van Wyk sal graag daarvan hoor.”

Maar nee, dit is toe ongelukkig nie Elaine se oupa nie, selfs al lyk dit so baie na hom, al was hy ook ‘n Weskusser en al het hy ook swepe gevleg. Haar oupa was Piet Brand van die plaas Brakkuil, net duskant Dwarskersbos.

Maar die ou wêreld is klein, Toe Elaine rondvra, kom sy agter haar ma weet van Oom

Theunis. Sy het self ‘n paar goedjies te vertel gehad oor “Vloorvlei” soos hulle Verlorenvlei glo genoem het – soos dat Oupa Brand  gewoonlik sy tome na ‘n Oom Van Zyl van “Vloorvlei” gebring het vir herstelwerk.

 Elaine het ‘n fototjie van haarself (toe 5 jaar oud) en Oupa Piet tussen haar foto’s gekry en aangestuur. Oupa Piet is links, en Oupa Theunis, soos hy op die boek verskyn, regs. Elaine sal bly soek en stuur as sy een van hom kry met sy hoed en sy konsertina,  belowe sy. 

Dit sal egter ‘n rukkie moet wag, want Elaine se ma is pas Australië toe. Haar goedjies word geberg  totdat  sy oor drie maande terugkom. Hou dus hierdie ruimte geduldig dop.  

Naskrif:   Raai wat was in Elainse ma se handbagasie.  ‘n Eksemplaar van So was dit, natuurlik. Elaine het dit gou op die lughawe vir haar gekoop vir leesstof op die lang vlug. Sommer op die vierde blad sou sy kon lees van Oom Theunis, wat in 1960 deur Johan self afgeneem is op besoek aan sy lappie grond, Muishoek.

Oom Theunis het sy eenvoudige maar onafhanklike boereleefwyse soos volg aan Johan beskryf:

“As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit die in die vlei waar die springers en harders boer; as ek wil vleis hê, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant.  Daar is my trapvloer en perdemeul, hier is my melkstal.  My meubels maak ek met ‘n dissel en my knipmes, my velle vir my tuie brei ek self.  In my voorhuis staan ‘n wireless en hier onder is ‘n phone.  In my tuiekasmer staan my houtbaadjie (doodkis) en daar onder die bome lê my kerkhof.  Ekskuld niemand niks.”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page