
Ek was gister by ‘n doop-seremonie van ‘n seuntjie met die gewigtige name Allesandro Domenico Stefano Broccehetto. Die Stefano kom van die Stephanus van my swaer Fanie van Wyk, trotse oupa van die knaap.
Stephanus (Fanie) het Stefano in sy familiedooprok wat al geslagte lank kom, met groot sorg die twintig tree of wat van die motor af teen steilerige trappies gedra na die houtdek onder groot bome waar die plegtigheid plaasgevind het. Ondanks sy amper 70 somers is die “naamgenoot” my swaer se eerste kleinkind. Sy hempsknope was kwaai onder druk met die kosbare vraggie in sy arms! Ouma Maretha is nie minder ingenome nie.
Die moeder van die baba is Corlie, Fanie en Maretha se dogter. Die vader is Lorenzo Broccehetto – so Italiaans van afkoms soos ‘n Alpha-Romeo. As jy met hom praat, sal jy egter nie agterkom hy is minder Afrikaans as sy vrou, skoonouers of hierdie oom nie. Hy sou ‘n Bronkhorst (klink nogal Broccehetto-rig) kon gewees het – selfs ‘n Van der Merwe. y kon n Bezuidenhoiut gewees het
Hierdie familie-agtergrond maar net om by die vraag uit te kom waaroor ek agterna oor die vonkelwyn en oesters en ander lekkernye so in my enigheid gesit en tob het. Dit is: wat gaan van al daardie welluidende name word? Wat gaan die klein Allesandro Domenico Stefano se noemnaam eendag wees?
My gade, Gesina Susara (sy is Fanie se suster), het Tokkie geword het – die afkorting vir Tokkelossie, wat haar vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar was omdat sy so ‘n klein kortetjie was. Toe sy in 1962 by die Bloemfonteinse Onderwyserskollege aankom, was daar ‘n abortiewe poging om Tokkie te vervang met Donsie – gelukkig abortief, want ek sou darem nie graag nou met ‘n Donsie van 60-plus getroud wou gewees het nie!
Ewenwel, dis geskiedenis. Maar wat dit relevant maak, is dat Broccehetto junior dalk – ondanks die indrukwekkende stapel name – maklik ook nog weens die een of ander fisieke eienskap of om ‘n ander rede iets totaal onverwant aan sy doopname kan word, soos Buksie of Bles. Of Porky, Shorty of Whitey. Tokkie deel mee hy is ge-oormerk vir Allesandro. Skoolmaats kan dalk besluit om hom Al of Broch te noem, en dit kan bly vassteek.
Die weë van name is soms onpeilbaar en ingewikkeld. My neef Ben Smith is daarenteen ‘n man met ‘n naam wat ‘n eenvoudige pad geloop het. Geen onvoorspelbare kronkelweë nie. Hy is Benjamin gedoop, wat gou in sy lewe Ben geword het. Sy ma, my Tant Minnie, het hom net Benjamin genoem as hy iets aangevang het waaroor sy “haar hare uit haar kop kon trek” (haar gunsteling-gesegde). Ditto wat sy vrou, Hannetjie, betref – bedoelende nie dat hare uit die kop trek ook haar gunsteling-gesegde is nie, maar dat Ben eweneens haar geduld soms seer beproef en dat sy hom dan ook Benjamin noem.
Maar eintlik is Ben Ben. Hy was dit vir sy personeel; hy is dit vir sy kinders, kleinkinders en die huishulp. Dit is soos hy dit wil hê.
Hannetjie is ook nie ‘n vrou wat op formaliteit staan nie. Tog, om een of ander rede,het haar skoondogter Michelle (Brent se vrou) haar altyd ge-missus Smith. Nog altyd. Die komplikasie daarmee het eers ontstaan toe die klein Smithies, dis nou Brent en Michelle se kinders, Teegan en Kyle, begin praat.
Oupa is Ben, kort en klaar. Maar wat noem hulle ‘n ouma wat hul ma Mrs. Smith noem? Granny Smith sou om klaarblyklike redes nie deug nie.
Toe word sy, heel vindingryk en kreatief, Apples. (HvD)
Commenti