top of page
  • Uitmelkbos

ALLEEN HEILDRONKIE


‘n GOUE oomblik wat ons met ons Sabieparkse vriende Dawie en Annatjie Strydom gedeel het, pryk nou op die omslag van die uwe se eerste e-boek “Spore in die bos/swerftog van ‘n olifant” wat binnekort deur e-Boeke vir Afrika by Amazon beskikbaar sal wees.

Ons sou ongetwyfeld met dié vriende ‘n heildronkie op die verskyning van “Spore” by Lake Panic wou drink – die Strydoms natuurlik hul gunsteling, Cellar Cask se wit Johannisberger Select, en die Van D’s ietsie droër – maar dinge het verander sedert daardie twee magiese ure by die voëlskuiling naby Skukuza in die winter van 2008.

Vir eers mag dagbesoekers nie meer ‘n wyntjie die Krugerwildtuin binnebring vir sulke feestelikheidjies nie. ‘n Gewigtiger rede is dat Dawie, soos ek dit vroeër hier gestel het, deur daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, ingehaal is. Onomkeerbaar.

Die mondfluitjie waarmee hy altyd “God sy met u tot ons weer ontmoet” by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies van ‘n Sabieparkvuurtjie laat opklink het, het stil geword. Sy herinneringe het weggesypel.

Sy verlore herinneringe sal, helaas, ook die insluit van die vreugdes van daardie besonderse Lake Panic-kuiertjie wat die geliefde plek se naam vir ons binne twee uur van “Meer van Raaisels” tot “Meer van Vreugdes” verander het. “Die hoogtepunt van al my besoeke, ” het dit Dawie ons wederrvaring kort en kragtig saamgevat.

Ons kameras het reeds oortyd gewerk: seekoeie, krokodille, ‘n ryke verskeidenheid watervoëls, selfs twee njalabulle wat eers lank gedrink en gewei en met hul horings in die donker modder gegrawe het en toe ‘n misverstandjie met klappende horings besleg het …. Toe verskyn die troppie olifante skielik op die toneel.

Die Grootvoete het soos skimme uit die bos gekom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei, naby genoeg om elke brekende takkie te hoor klap. Ons kon elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie bestudeer, selfs die wimpers.

Later was dit tyd vir waterpret. Die mammas is doelgerig na die oorkantste wal toe; die kleintjies, vier, as ek reg onthou, moes toe maar teen wil en dank agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid. Soos mini-duikbootjies met net die die tippies van hul slurpies bo die water sigbaar.

Ewenwel die foto op die omslag (hierbo) is een wat daardie gedenkwaardige oggend geneem is.

Ook op ‘n ander omslag-opsie wat in die pylvak ingehaal en verbygesteek is, pryk, vreemd genoeg, ‘n olifantfoto wat geneem is toe ons en die Strydoms saam was. Een Sondag na kerk was ons via die S3 op pad huis toe. Net duskant die hek draf twee olifante toe op ‘n flukse pas voor ons verby. Ene was “Langtand”, goed bekend in Sabiepark. Sy handelsmerk – sy tande – verraai dadelik sy identiteit.

Ná ‘n paar oomblikke het die twee mekaar begin stamp-stamp. Hulle kry mekaar in ‘n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters. By my was min twyfel dat dit ‘n uitbarsting van olifant-aggressie was. Huismoles dalk? Ander teorieë is egter ook geopper: “Dis net ‘n slurp-geselsie”; “Hulle speel net”; “Is romanse nie dalk in die lug nie?”

Wie sal ooit weet? Maar nou-ja, ook daaroor sal ek en Dawie nie weer kan bespiegel en ons standpunte teenoor mekaar kan stel nie. Sal maar my skelm heildronkie alleen moet drink.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page