Oor die wispelturigheid waarmee modes deur die eeue bejeën word, het ene James Lever die volgende uitspraak gelewer:
“Een en dieselfde ontwerp sal tien jaar voor sy aanvaarding as onfatsoenlik bestempel word, vyf jaar voor sy tyd as skaamteloos, een jaar voor sy tyd as gewaag en eers as dit in die mode is as deftig.” Daarna, betoog hy verder, raak dit in stappe al hoe ouderwetser in mense se oë totdat dit mettertyd weer mode word.
Oor die meriete van elke bewering van die heer Laver laat ek my nie uit nie. ‘n Verstandige man hou hom uit die weer en uit modes uit.
Maar ek het ‘n belofte gemaak om by my onderrok-tema terug te kom, en daarom doen ek dit vandag. Met my aankondiging had ek ‘n motief. Ek bely dat ek die foto van die pragtige Prinses Diana (toe nog Diana Spencer) sonder onderrok wou gaan opdiep – omtrent die eerste foto wat die wêreld in 1981 van die fraaie Di gesien het pas nadat dit uitgelek het prins Charles kuier by ‘n nuwe nooi.
Diana het destyds by ‘n kleuterskool in Londen gewerk. Die Britte het gejubel oor die oulike nooientjie wat Charles, daardie ou droë bokkem, as moontlike toekomstige koningin losgeslaan het. In haar deursigtige rokkie sans onderrok kon hulle ook sommer sien watter buitengewoon mooi bene die kind het.
Ek het in 1981 40 jaar oud geword, maar ek was nie te oud om Diana se skoonheid (en haar bene!) te waardeer, of om twee keer na die foto te kyk waarop die “stoute son” (Kammakazi op Linet se mooi begrip) bewonderaars van vroulike bene ‘n guns doen nie. Ai, ai, fraaie Di!
Ek dink nie ek het daardie “mode” as onfatsoenlik of skaamteloos beskou nie, dalk tog as effens gewaag.
Oor die mate waarin Diana se deursigtigheid wel ‘n nuwe mode ingelui het, kan ek my nie uitspreek nie. Ek is wel bewus van ‘n “see through”-periode daarvoor of daarna toe vooruitstrewende meisies veral bolangs min aan die verbeelding oorgelaat het. Deur die dunnerige materiaal was soms allerlei bekoorlikhede waar te neem vir iemand met die moed en selfvertroue om stip te kyk.
Dit sou ek ook nie as ontfatsoenlik wou bestempel nie – wel, miskien, skaamteloos? In elk geval, wat die Dianafoto ten minste bewys, is dit: dat die stywe onderrok met sy lae en valle teen die derde kwart van die vorige eeu bepaald nie meer mode was nie. Die eenvoudiger halflengte-onderrokkie (“slip” genoem in Engels) het in die plek gekom, en is soms in die kas gelos vir ‘n bietjie vars lug, soos in Diana se geval.
Die moeilikheid met die halfpad-affêrinkie was dat sy rekkie maklik gebreek het. Dan verloor hy op ‘n sleg tyd. Is dit dan nie Helen Suzman s’n wat in die Volksraad na benede gesak het terwyl sy aan die woord was nie? Toe skop sy die dingetjie eenvoudig uit en gaan voort met haar voordrag!
Tokkie s’n het een keer in Bloemfontein op die stoep verloor, terwyl ‘n buurvrou (gelukkig, ja) by haar staan en gesels het. “Sê Hennie moet vir jou ‘n nuwe koop,” was die buurvrou se advies.
Fluit-fluit, my onderrokstorie is uit, maar ek sluit darem graag met die kommentaar van ‘n mooie matriekmaat, Eveleen du Plessis, op my vorige blog:
Hallo Hennie Ek kry sommer heimwee MY MA HET VIR ONS ONDERROKKE GEMAAK VAN ONGEBLEIKTE LINNE MET VALLE EN NOGMAALS VALLE!!! Saterdagoggende het ons in die koshuis baklei wie eerste die yster gaan gebruik. Daar is maizena aangemaak en jou onderrok is ingedompel. Dit het omtrent langer as ‘n uur geneem om elke val so te sê droog te stryk en dan ook kort, kort die yster af te vee. Maar boeta, as hy daar klaar is dan voel jy behoorlik soos ‘n” million dollar”-bruid op pad saal toe of Jack Pauw (seunskoshuis) toe vir ‘n dans. Groete Eveleen
Jinne, Eveleen, nooit besef hoe hard julle werk om vir ons só begeerlik te lyk nie!
留言