top of page
  • Uitmelkbos

AHOOI, WALVISBAAI!


 In die groep is:  

 Studentemaat Pierre le Roux (en Esther) van Mosselbaai.  Ek en Pierre ken mekaar as Tukkies sedert 1959. In 1962 was die uwe huisvoorsitter en Pierre adjudant. Ons vriendskap van oor die 50 jaar is steeds  vir albei net ‘n vreugde (hoop ek).   

 Kollega en woonstelmaat Ben van Rensburg (en Rina) van Stellenboch.  Ek en Ben was in 1964 saam by Die Volksblad en saam in La Gratitude, Unielaan, teen Naval Hill. Toe ek en Tokkie verloof raak op 15 Maart 1965 het Ben foto’s geneem.  My vrou lyk daarop nes Jackie Kennedy (net mooier)

 Probusmaats (sosiale klub vir afgetredenes op Melkbos en Blouberg):

 Flip Nel (en Linda), spitsvondige dokter-politikus wat ek al uit my Vrystaatdae goed ken. Ek het vir Colin se Kallers krieket gespeel (Bloemfontein); hy vir Bill se Bulle (Welkom).  Die Kallers was beslis die beste span, al het ons soms verloor.

 Thys Slabber (en Marieta), wellewende Swartlandboer, wat graag boeke present gee.  My kosbare M.M. (Thys) Walters-versamelinkie kom van Thys. Hulle is familie. Ons Thys se  vetplantjietuin op Melkbos (koekemakrankas, ens) is ‘n lus vir die oog.

 Lukas Theron (en Rina), wat in Bloemfontein’n motorbaas was en ‘n  Golfie geborg het as eerste prys in Die Volksblad se Matrieknooiwedstryd.  Raakvat Rina reël die dingetjies vir ons. As Rina reël, loop dinge reg.  (Vriende van Lukas en Rina, Ansie en Thinus, vaar saam  – sien uit om julle te ontmoet.)  

 Koos Myburgh (en Ralda), joviale wynman van die agter-Paarl. Wens ek kon van sy voortreflike Perdeberg-wyne (Soft Smooth Red) en Chenin Blanc inpak. Ongelukkig ‘n doodsonde om jou eie drank op die skip te neem.

 Marten Grond (en Fimmie), oud-Frieslander en –burgemeester van Midrand. Ry die wêreld vol met sy ryhuis. Lees van die Gronds se Kroasië-avontuur in Desember se  Wegsleep. Voëlkyker en boommkenner. Was ‘n toergids en ken die land soos sy palm.

Frans Ellis (en Lourette), eiendomsghoeroe van Melkbos.  Hierdie egpaar woel met hul gastehuis en verhurings. Pas op, hulle verhuur in Desember jou huis onder jou sitvlak uit. Lief vir al wat ‘n konsert is. Weet waar om hulle op die Opera te gaan soek.

 Jacko Maree (en Jeanette Bartlett), oud-politikus, “taalbul” van die Universiteit Stellenbosch en kenner van die WVK. Op 75 het hy vir hom ‘n Honda Gold Wing aangeskaf en ‘n soloreis van oor die 4 000 km aangedurf. Jacko die jintelman, noem die meisies hom – nie sonder goeie rede nie.

Rip Riphagen (en Corine), nocht een Nederlander; drankhandelaar, koskenner en ewe lief vir die Bosveld as die uwe. Fynproewers, hierdie twee.   Hoop maar die sjefs van die Opera is oorgehaal om hul beste voete voor te sit.

 Kobus Victor (en Cecile), my kubervriend wat ook in lewende lywe vriend geword het. Oud-leraar en –uitgewer van Christelike lektuur. Sterkte. Kobus, met die verantwoordelikheid om ons lot vyf dae op die spoor te hou.

 Mede-Melkbossers:  

 Du Toit Hamman (en Annette), ook ryhuismense. Staatmakers vir Probusvriend Hennie Jonker wat op die oomblik weer in die hospitaal is. Ervare bootresigers wat al oral se waters beproef het. Hulle ken al die slaggate.

 Annette Dippenaar en Josephine Loubscher, grasweduwee en weduwee – voorslagvroue by kospotte, naaimasjiene en wat nog.  Sal maar by hul kajuit gaan hulp soek met praktiese probleempies (af knope en dies meer) as Tokkie nie beskikbaar sou wees nie.  Maar hoekom sal sy nie wees nie?   Ons is tog  saam in kajuit 8195 op die La Traviatadek.

 La Traviata? Brindisi (die drinklied uit La T) klink skielik na ‘n goeie temalied.  

 Naskrif: Hoor ‘n voëltjie fluit Elindi van Rensburg is op die boot.  Die mooie meisiekind was ‘n buurdogter in Bloemfontein. Slim ook … swot nagraads op Stellenboch. – al Ph.D of so. Oom Hennie sal ‘n ogie hou, indien moontlik.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page