top of page
Uitmelkbos

AGTERGEBLEWENE

Sannie Wiese, vrou van Eric, Andrew Marais, Salie de Swardt. Agter steek Mariel le Roux uit.



In 1992 het ek op Ton Vosloo se uitnodiging uit Bloemfontein Kaap toe gekom as nuwe Koerantehoof – die redakteur wat nie ‘n balansstaat kon lees nie (ek kan nou nog nie), en kom versondig ek in die Nasperssentrum aan die Heerengracht toe die siele van ‘n bekwame bestuurskorps wat teen wil en dank met die rekenkundige “agtergeblewene” moes saamwerk.

In die gedugte syferspan van daardie era was manne van die kaliber van Hennie Conradie, Eric Wiese, Jas du Preez, Jan Malherbe en Jean le Roux (deesdae glo bekend as “daardie ou aan Mariel le Roux – die bekroonde skryfster van Hermanus – se sy”). Dit was seer aangenaam om Cronk (Hennie Conradie) en sy manne by my 70ste verjaardag te verwelkom.

Eric was die slagoffer op wie ek meesal toegesak het om syfergeheimenisse vir my op te klaar. Jean en Jan (wat my met my aftrede einde 1997 opgevolg het) was as hoofbestuurders van Beeld en Die Burger, die Aäron en Hur, wat die koerantehoof se arms omhoog moes hou.

Dankie, kêrels, vir al julle geduld met hierdie outjie se chroniese onkunde.

My twee kollegas van Tydskrifte (Danie Krynauw en sy opvolger, Salie de Swardt) was ook teenwoordig. Danie het my geleer as ‘n direkteur jou vasvra oor syfers, moet jy hom net in die oë kyk en oortuigend ‘n raaiskoot waag. Ek het een keer, maar was klaarblyklik so ver van die kol dat die direkteur stom verbaas was.

Andrew Marais, ons reklamehoof en gedugte kuns- en wynkenner, het uit George na die geleentheid gekom. Hy het in die jare 90 self baie geduld aan die dag moes lê om hierdie ruwerige diamant in te wy in die fyner kunsies van die Kaapse kultuur.

Uiters belangrike syfermense vir oumense is die ouens wat moet keer dat die pensioentjies opraak. My fiskus is Jaap Duvenage van Citadel, wat uit Pretorias saam kom partytjie hou het. “Meneer Jaap Lekkerlag,” het ons huishulp Griet Nuwegeld hom genoem.

“Van lekker lag kom lekker huil, ” het my ouma altyd gesê. Gelukkig, Jaap, het selfs die slimste Oumas dit soms mis!

Volgende: Melkbos en Sabiepark

7 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page