Spanmaats. Die SAUK-manne Neville Krige en Daan Eksteen en Volksbladman Hennie van Deventer met hul parlementere pette.
‘n Ererol met name van voortreflike uitsaaiers op die Afrikaanse radio flits voor my geestesoog verby as ek op sy 75 ste verjaardag vir RSG en sy mense ‘n tarentaalveer in die hoed steek.
Ek is drie jaar en ‘n stukkie jonger as die Afrikaanse radiodiens, maar het as klein pikkie al met kortgolf kennis gemaak. Die piep-piep-piep-piep van flitsberigte, die sportkommentaar – ook boks en rofstoei! – later wonderlike musiekprogramme soos U Eie Keuse, nuus en nuuskommentaar, radiodrama’s (ai, Soetmelksvlei!), joernaalprogramme, boekerubrieke en wat nog het deur die jare my lewe geweldig verryk.
Die bydrae tot die Afrikaanse kultuur is ‘n blywende monument vir radio. Die rol in die vorming van individue is miskien moeiliker definieerbaar, maar sekerlik in honderde duisende gevalle – meer! – van ewe onskatbare waarde.
My vroegste helder radio-herinneringe is van die 1948-verkiesing waar die NP die VP-regering uitgeknikker het. Saam met Oupa Visser het ek in ons voorhuisie in die gehuurde skakelhuis in Kimberley die uitslae opgeslurp. Met elke NP-sege het Oupa se kierie tik-tik-tik ‘n riel op die houtvloer gedans. In my kindergemoed het ek besef: iets groot is aan die gang.
Sportkommentators was van die eerste radiomense wat vir my huishoudelike name geword het: Paul Bothma, Awie Labuschagne, Johan de Bruyn (hoop ek onthou reg), Dana Niehaus, Morkel van Tonder en andere het my voor die radio vasgenael laat sit met hul opwindende uitsendings. Later het die era van die onvergeetlike Gerhard Viviers gekom.
Met Gerhard het ek ‘n uitvoerige onderhoud gevoer vir my rubriek Onder Vier Oë by Beeld in die laat jare 70. Hy was ‘n legende, hierdie man wat, ironies, aan keelkanker sonder ‘n woord oor sy lippe sou sterf. Ook die onblusbare Cobus Robinson – hy wat Madeleine van Biljon, Koningin van die Lag, se uitbundige lag vir luisteraars ontsluit het – het in Onder Vier Oë sy beurt gekry.
Maar jy was dan ‘n koerantman en hulle radiomanne, hoor ek iemand vraend opmerk. Was hulle dan nie opposisie nie? In sekere opsigte was die radio en koerante natuurlik in stryd – veral op die gebied van nuus en advertensies. Maar hulle was ook media-bondgenote vir Afrikaans. En dat die radio fyn mense op sy personeel gehad het, kan niemand betwyfel nié.
Almal wat ek leer ken het, was Mensekwaliteit met ‘n hoofletter M. Ek is skrikkerig dat ek nou gaan name uitlos, maar ek dink aan mense soos Nic Swanepoel en Daniel Hugo met wie ek oor boeke gesels het, Retief Uys (ook sportkommentator en in ‘n stadium aanbieder van U Eie Keuse) wat in Bloemfontein ‘n goeie vriend geword het, Fanus Rautenbach (rakker wat hy was), joernaliste soos Daan Eksteen en Neville Krige, albei Londense verteenwoordigers en politieke beriggewers van die SAUK, en sovele ander. (Ook Mornay Pretorius, Carel Leonhardt en Christo Olivier het ek in Bloemfontein leer ken en waardeer. Mornay was egter hoofsaaklik Engelse omroeper, Carel was toe al ‘n bestuurder en Christo is van ‘n latere generasie – saai nou nog uit!)
Met sekeres het ek stelle afgetrap soos met Chris Louw in ‘n berugte Monitor-onderhoud oor die WVK. Laat ek nie op ‘n feesdag ou koeie hier uit die sloot grawe nie.
Ek, Daan en Neville was in ‘n stadium spanmaats in die Parlementere krieketspan, wat aangevoer is deur Ossie Newton-Thompson,LV vir Pinelands, wat later in ‘n vliegongeluk omgekom het. Van ons spanmaats was sir De Villiers Graaff en die latere minister John Wiley. Groot tye daar onder die akkerbome van Fernwoord beleef, en een middag – as aanvangskolwer (ek het vir die skool op nommer 10 ingestap) – iets soos 30 n.u.n. aangeteken. Was selfs genoem in die uitslaekolom van die Late Argus.
Dit net terloops. Deur Daan en Neville het ek ander radiomanne leer ken, soos Stoffel Prinsloo en Johan Stemmet, Daan se bure in ‘n halfmaan-huisies hoog op in Seepunt. Van Johan Stemmet het Daan altyd gese: “As ek so ‘n stem-het, het ek ook ‘n omroeper geword.”
Mooi stemme. Dit het al die uitsaaiers natuurlik gemeen gehad. Die fluweelkwaliteit van die ikoniese stem van Daniel Kirstein – seker aanbieder numero uno in my tyd – sal nie maklik geëwenaar word nie.
Die stemme van nuusmense wat uit die Parlement en uit Londen gereelde stembydraes gelewer het, was dalk net so bekend of bekender as dié van die gewildste omroepers. Neville had so ‘n lekker brei. Sy lakonieke styl kon ‘n mens laat vermoed hy loop altyd met ‘n glimlag, wat nie ver van die waarheid was nie. Sy glimlag het sy glans verloor toe John Vorster hom as woordvoerder werf maar kort daarna as Eerste Minister bedank. Neville is aan ‘n vroeë hartaanval dood in die kantore van Joe Slovo by wie hy mettertyd beland het.
Toe Edwill van Aarde vanoggend op Vat Vyf noem van sy reuse-versameling van André Rieu-DVD’s en CD’s kon ek een van my rak haal wat ‘n geskenk van Edwill was. Ons het mekaar aan die Rand leer ken, en het nou nog periodieke kontak met sms’e oor mekaar se welstand, ens. Hy het laat weet oor vanoggend. Ek het lekker na hom geluister en besef hoe ‘n groot oomblik dit vir hom moet wees om weer agter die mikrofoon te wees. Edwill is nie ‘n gesonde man nie en verduur feitlik permanente pyn.
Oor een ding wil ek darem met Edwill en Derrich Gardner (Saterdag-aanbieder) in gerigl tree. Mense, die seekoei is nie een van die Vyf Grotes nie. Julle het skoon van die renoster vergeet!
Comments